Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 12 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met krieket: Aanvangskolwer Quinton de Kock het die legendariese AB de Villiers verbygesteek as Suid-Afrika se voorste lopiemaker in T20-Wêreldbekertoernooie. Sy 59 in gister se riller teen Afganistan het sy totaal tot 737 laat styg teenoor De Villiers se 717. Die Proteas het uiteindelik in die tweede super-boulbeurt geseëvier nadat hulle die kans verspeel het om Afganistan in die 20ste boulbeurt uit te boul. Die eerste super-boulbeurt was gelykop, waarna Afganistan nie die teiken van 24 in die tweede een kon haal nie. Suid-Afrika speel Saterdag teen Nieu-Seeland.
# Rugby: Die Stormers het hul diepte op losskakel vir die volgende paar jaar verseker met Jurie Matthee wat sy kontrak tot 2029 verleng het. Hy ding mee om die posisie met die Springbok-nommer tien, Sacha Feinberg-Mngomezulu, en die Bok-heelagter, Damian Willemse, wat ook losskakel kan speel. Die 25-jarige Matthee het in 2023 by die Kaapse span aangesluit en homself sedertdien as ‘n wedstrydwenner bewys. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê Matthee word deur sy spanmaats asook hul teenstanders gerespekteer, en die Stormers is verheug om hom nog so lank te behou.
# Gholf: Die viermalige major-wenner Ernie Els lei ‘n groep sterk Suid-Afrikaanse spelers in die NTT Data Pro-Am, wat vanoggend op die Fancourt-landgoed in George in die Wes-Kaap begin. Die 56-jarige slaan af saam met die verdedigende kampioen, Wilco Nienaber, en die opkomende ster Casey Jarvis. Nienaber is een van net vier spelers wat die titel twee keer kon opraap in die toernooi se bestaan van 31-jaar. Ander spelers sluit in die Spanjaard Pablo Ereno en die DP World-toer-wenners Eddie Pepperell en Matthew Baldwin van Engeland.
# Sokker: Alle kaartjies is reeds uitverkoop vir die Soweto-derbie tussen Kaizer Chiefs en Orlando Pirates op die FNB-stadion in Johannesburg. Dit is in rekordtyd aanlyn en by kleinhandelaars opgeraap, terwyl baie ondersteuners teleurgesteld moes omdraai. Die organiseerders het ondersteuners sonder kaartjies aangeraai om nie op die 28ste by die stadion op te daag nie, aangesien daar streng sekerheidsmaatreëls sal wees. Aanhangers wat kaartjies het, word versoek om vroeg op te daag om die vooraf-vermaak te geniet.
# En laastens, Olimpiese Spele: Sarah Schleper en Lasse Gaxiola van Mexiko maak hierdie naweek geskiedenis in Noord-Italië wanneer hulle die eerste ma en seun word wat aan dieselfde Winterspele deelneem. Die 46-jarige Schleper sal aan die Alpynse ski deelneem en die 18-jarige Gaxiola aan die reuse-slalom. Hulle sal mekaar egter nie kan ondersteun nie, aangesien Gaxiola in Bormio deelneem en Schleper in Cortina. Schleper sal ook die oudste vroulike Alpynse skiër op ‘n Spele word, en die eerste wat aan sewe Spele deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….