Nuus 09:00
BULLETIN 12 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika is verkies tot die Afrika-Unie se Vredes- en Veiligheidsraad
# ‘n Bek-en-klouseer-geval is naby Hartenbos in die Tuinroete-distrik aangemeld
# En Dawson’s Creek-ster James Van Der Beek is oorlede na sy stryd teen kanker
# Suid-Afrika is vir ‘n termyn van twee jaar in die Vredes- en Veiligheidsraad van die Afrika-unie verkies. Die raad van 15 lede bemiddel tydige en doeltreffende reaksie op konflik- en krisissituasies in Afrika. Die woordvoerder van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Chrispin Phiri, sê Suid-Afrika se termyn in die raad sal gerig word deur sy buitelandse beleid, wat vrede, bestendigheid en ontwikkeling in Afrika prioritiseer:
# United Africans Transformation sê vandag se staatsrede moet meer as net beloftes wees en duidelike, tydsgebonde optrede lewer. Die party vra president Cyril Ramaphosa vir ‘n eerlike weergawe van regeringsprestasie, daadwerklike planne vir ekonomiese groei, grondhervorming en onderwys uiteen te sit, en misdaad en korrupsie beslissend aan te pak. Die leier van die party, Wonder Mahlatsi, sê sukses sal gemeet word aan lewering en uitkomste, nie retoriek nie:
# Die Tuinroete-distriksmunisipaliteit sê die bek-en-klouseergeval wat op ‘n melkplaas naby Mosselbaai ondersoek is, het positief vir die virus getoets. Die geval is op ʼn plaas buite Hartenbos opgemerk. Die siekte raak diere met gesplete hoewe soos beeste, skape, bokke en varke, en veroorsaak pynlike sere in die mond en aan hoewe. Die munisipaliteit se woordvoerder, Herman Pieters, sê vee op twee aangrensende plase toon ook tekens van die siekte:
# Sokker: Die gaping tussen Manchester City en Arsenal, is tot drie punte vernou ná ʼn 3-0-oorwinning oor Fulham. Antoine Semenyo, Nico O’Reilly en Erling Haaland se doele het City se onoorwonne lopie tot 12 wedstryde gebring. Arsenal speel vanaand teen Brentford. Intussen het kaptein Virgil van Dijk se kopskoot Liverpool ʼn 1-0-sege oor Sunderland besorg en hul hoop om vir die Kampioeneliga te kwalifiseer lewend gehou. Jack Hinshelwood se doel in die 86ste minuut het Aston Villa se 1-0-oorwinning oor Brighton en hul derde plek op die Premierliga-punteleer verseker.
# James Van Der Beek, wat bekendheid verwerf het vir sy rol in die tienerdrama, Dawson’s Creek, is dood. Die 48-jarige ster is in 2023 met kolorektale kanker gediagnoseer en het dit in 2024 bekendgemaak. Dawson’s Creek, met akteurs soos Katie Holmes, Joshua Jackson en Michelle Williams, is ses seisoene lank uitgesaai. Van Der Beek het ʼn MTV-fliektoekenning vir die drama Varsity Blues ontvang. Die pa van ses was ook ʼn gasspeler in produksies soos Criminal Minds en How I Met Your Mother.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-309-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-59-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….