Nuus 08:00
BULLETIN 12 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die IMF sê skuld en onafgehandelde beleidshervormings kniehalter Suid-Afrika
# Die premier van Gauteng vra inwoners om verskoning vir die voortdurende waterkrisis
# En die Kanadese polisie identifiseer die verdagte in die Tumbler Ridge-skoolskietery
# Die Internasionale Monetêre Fonds waarsku dat risiko’s vir Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsig kan toeneem, hoofsaaklik weens wêreldwye versplintering, spanning op handelsgebied en trae hervormings in die land. Die fonds stel ‘n groei van 1,4-persent in die vooruitsig vir vanjaar en sowat 1,8-persent oor die medium termyn. Die IMF sê in sy jongste verslag hy is bekommerd oor Suid-Afrika se staatskuld en trae binnelandse hervormings. Hy beklemtoon dat goedgekoördineerde beleid en hervormings nodig is om fiskale bestendigheid te waarborg, lae en bestendige inflasie en finansiële bestendigheid te verseker om hoër en inklusiewe groei te bereik.
# Action Society sê president Cyril Ramaphosa se staatsrede moet fokus op dringende polisiëring en regshervormings. Die organisasie doen ‘n beroep op meetbare optrede om geweldmisdaad aan te pak, om vroue en kinders te beskerm en die publiek se vertroue in die polisie te herstel. Hy spoor die regering aan om in ‘n verkiesingsjaar veiligheid bo politiek te prioritiseer. Juanita du Preez van Action Society waarsku sonder ‘n veilige en funksionerende strafregstelsel, sal ekonomiese en maatskaplike herstelplanne misluk:
# Gauteng se premier Panyaza Lesufi het gemeenskappe en naburige provinsies wat waterprobleme ondervind, verskoning gevra. Tegniese probleme by Rand Water-infrastruktuur, insluitend ‘n ontploffing, kragverwante onderbrekings en hoë verbruik, het tot verminderde toevoer in die provinsie gelei. ʼn Interregering-krisisbevelsentrum is gestig om die provinsie se toenemende waterkrisis te hanteer. Lesufi sê hulle sal die situasie so gou moontlik regstel:
# Polisie in Kanada het die verdagte wat verantwoordelik was vir die dodelike skietery Dinsdag by die Tumbler Ridge Secondary School in Brits-Columbië, as die 18-jarige Jesse Van Rootselaar geïdentifiseer. ʼn Onderwyser en vyf leerders is dood terwyl 25 ander beseer is. Die verdagte se ma en stiefbroer is later by die gesin se woning dood aangetref. Die adjunkkommissaris van die Kanadese berede-polisie, Dwayne McDonald, sê Van Rootselaar het op die toneel selfdood gepleeg:
# Tennis: Die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, het weens uitputting onttrek aan die Doha Ope, wat Maandag begin. Die 38-jarige Djokovic wat in 2016 en 2017 agtereenvolgende titels in Doha gewen het, het verlede maand in die Australiese Ope-eindstryd teen die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz van Spanje verloor. Alcaraz en Jannik Sinner van Italië is die twee topgekeurdes by die hardebaan- ATP 500-geleentheid. Djokovic sal weer volgende maand by Indian Wells deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-309-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-59-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….