Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 12 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Internasionale Monetêre Fonds het Suid-Afrika gewaarsku hoewel daar ‘n opwaartse neiging in die land se vooruitsig is, gaan plaaslike en internasionale risiko’s steeds ‘n negatiewe uitwerking op groei hê.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan het voor die parlementêre ad hoc-komitee getuig dat die KwaZulu-Natalse polisiekommisaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwnazi net halwe waarhede verkondig het tydens sy mediakonferensie op 6 Julie verlede jaar. O’Sullivan sê daar is geen bewyse van ‘n sogenaamde Groot Vyf-sindikaat wat die strafregstelsel infiltreer nie.
Tweedens skryf die webblad president Cyril Ramaphosa sal vandag tydens sy staatsrede dringende aandag moet skenk aan mense se vrae oor misdaad, korrupsie en werkloosheid.
En laastens is daar nuus oor die 26-jarige Barend Alkema wat in ‘n huisroof by sy ouerhuis in Centurion doodgeskiet is. Hy was ‘n krieketafrigter by die Laerskool Hennopspark.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf eerstens ook oor O’Sullivan se getuienis voor die ad hoc-komitee. Daar is ‘n berig oor die DA se federale voorsitter en voorgenome burgemeesterskandidaat in Johannesburg, Helen Zille se standpunt oor die stad se waterkrisis, en laastens gee die koerant ‘n voorskou oor die staatsrede.
# Sowetan:
Berig oor ‘n prokureur, Petunia Macingwane wat beskuldig word dat sy geld van voornemende huiseienaars verduister het. Die Eiendomsmarkreguleerder sê dit is slegs een van vyf sake wat ondersoek word.
# En The Citizen:
Skryf waterkenners het ‘n dringende beroep op Ramaphosa gedoen om vandag in sy staatsrede die waterkrisis tot nasionale ramp te verklaar en die fondse beskikbaar te stel om die huidige probleem op te los. Beloftes oor damme gaan nie nou vir die mense water voorsien nie en die infrastruktuur moet herstel word.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig oor georganiseerde landbou se skerp reaksie oor die verwydering van die veearts, dokter Danie Odendaal uit die ministriële taakspan wat bek-en-klouseer moet bestuur. Hy is deur dokter Gary Bauer van Wildlife Ranching vervang.
En tweedens is daar nuus oor ‘n jong veearts wat die lewe van ‘n onkoloog gered het.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig talle betogers is beseer toe die polisie gister gewelddadig opgetree het teen Grogro-gemeenskapslede wat betoog het oor die verskaffing van basiese dienste in die informele nedersetting wat reeds 40 jaar bestaan.
En tweedens skryf die koerant Andrew Whitfield en Yusuf Cassim is herkies as die provinsiale leiers van die DA in die Oos-Kaap. Whitfield het die leierskap by Nqaba Bhanga oorgeneem, terwyl Cassim as die party se Oos-Kaapse voorsitter verkies is.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die MK-party se arbeids- en burgerlike organisasie, LACO het op nog ‘n aanleg in Pietermaritzburg toegesak en chaos geskep deur stakings en betogings oor beweerde onregverdige arbeidspraktyk. Sakeondernemings soos Save Hyper-supermark moes sy deure sluit.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die Namibiese bek-en-klouseer-maatreëls moet volgens kenners onmiddellik ingestel word sonder enige administratiewe oponthoud.
En tweedens skryf die koerant die inwoners van die Kehemu-nedersetting in Rundu is moedeloos, want vir meer as ‘n dekade is dele van hulle woonplek gedurende die reënseisoen onder water.