Nuus 07:00
BULLETIN 12 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die staatsrede sal nugtere nadenke en versigtige hoop balanseer
# Die ministerie van Justisie veroordeel die dreigemente teen die woordvoerder van die Spesiale Ondersoekeenheid
# En die Amerikaanse prokureur-generaal verdedig die hantering van die Epstein-lêers
# President Cyril Ramaphosa het aangedui dat ekonomiese druk en fiskale beperkings vanaand belangrike temas in sy staatsrede sal wees. Hy sal na verwagting ingrypings vir die komende boekjaar aankondig, en uitbrei oor Suid-Afrika se plaaslike prioriteite, asook die land se verhoudings op die vasteland en internasionaal. Ramaphosa sê sy toespraak sal nugter nadenke en versigtige hoop balanseer, en vordering erken terwyl hy ook voortslepende strukturele uitdagings sal noem:
Die IVP sê intussen hy verwag dat Ramaphosa vanaand ‘n omvattende en aksie-georiënteerde staatsrede moet lewer. Hy sê die president moet die regering se planne uiteensit hoe hy dienslewering gaan verbeter, en goeie regering en inklusiewe ekonomiese ontwikkeling gaan bevorder. Die IVP sê Ramaphosa moet in sy toespraak konkrete maatreëls voorstel om jeugwerkloosheid te verminder, waterskaarste in landelike gebiede aan te spreek, en veiligheid en sekuriteit te versterk. Hy sê die staatsrede moet meetbare vordering aantoon wat verlede jaar se beloftes betref.
# Die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling sê dreigemente teen die woordvoerder van die Spesiale Ondersoekeenheid, Kaizer Kganyago, sal nie geduld word nie. Die dreigemente volg na Kganyago se verduideliking oor ‘n uitspraak rakende Omar’s Motor Den, ‘n handelaar wat ondersoek word vir tenders by die Tembisa-hospitaal. Die woorvoerder van die Ministerie, Terrence Manase, sê openbare amptenare moet hul pligte sonder vrees, intimidasie of teistering kan uitvoer. Manase het bygevoeg dat enige direkte of geïmpliseerde dreigemente onaanvaarbaar is en die oppergesag van die reg ondermyn:
# Die Bakwena Platinum Corridor-tolpadmaatskappy vorder met die 276-miljoen-rand rehabilitasie van die N1 tussen die Proefplaas-wisselaar en die Pumulani-tolhek in Pretoria. Die projek, wat in Augustus verlede jaar begin het en tot November vanjaar sal duur, sluit in die vernuwing van bane, opgradering van wisselaars, herstel van dreinering en vervanging van padtekens. Die verbeterings is daarop gemik om padveiligheid en verkeersvloei te verbeter, asook om plaaslike werkgeleenthede en handel te ondersteun. Streng verkeersbestuursmaatreëls is in plek om vertragings te verminder en veilige toestande vir alle padgebruikers te waarborg.
# Amerika se prokureur-generaal, Pam Bondi, het die Trump-administrasie se hantering van die Jeffrey Epstein-lêers verdedig. Die Departement van Justisie is gestriem oor sy versuim om elke dokument bekend te maak wat deel was van die ondersoek na die oorlede seksoortreder, en die foute in redigering toe dit uiteindelik vrygestel is. Bondi het in haar getuienis voor die Huis se Regterlike Komitee gesê amptenare doen hul bes in die toegelate tydraamwerk om Epstein se slagoffers te beskerm:
# Gholf: Die viermalige major-wenner Ernie Els lei ʼn groep sterk Suid-Afrikaanse spelers in die NTT Data Pro-Am, wat vandag by die Fancourt-landgoed in George in die Wes-Kaap begin. Die 56-jarige Els slaan af saam met die verdedigende kampioen, Wilco Nienaber en opkomende ster, Casey Jarvis. Nienaber sluit aan by ʼn uitgelese groep van slegs vier spelers wat die titel twee keer in die toernooi se bestaan van 31 jaar kon opraap. Ander spelers sluit die Spanjaard, Pablo Ereno, en DP World Tour-wenners Eddie Pepperell en Matthew Baldwin van Engeland in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-85-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-62-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-916-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-59-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….