Nuus 06:00
BULLETIN 12 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê die rehabilitasie van oortreders sal misdaad bekamp
# Ligte waterbeperkings sal in dele van die land ingestel word
# En tropiese sikloon Gezani tref Madagaskar
# President Cyril Ramaphosa sê die bekamping van misdaad in Suid-Afrika vereis eerlike besprekings rondom die rehabilitasie en herintegrasie van oortreders. Ramaphosa het tydens die bekendstelling van die Nelson Mandela-reëls-opleidingsakademie in die Wes-Kaap gesê meer as 18-duisend voormalige oortreders wat op parool is, het in die afgelope drie jaar weer oortree. Hy beklemtoon dit is noodsaaklik om oud-oortreders te ondersteun en sê die Akademie het ten doel om die misdaadsiklus te verbreek en suksesvolle herintegrasie in gemeenskappe te verseker:
# United for Change vra president Cyril Ramaphosa om munisipaliteite wat ineenstort te prioritiseer in die Staatsrede vandag. Die koalisie, bestaande uit RISE Mzansi, die GOOD-party en BOSA, sê wanfunksionele plaaslike regerings ondermyn dienslewering en ekonomiese groei. Hy vra dringende hervormings, kragtiger wetstoepassingskoördinering en optrede teen korrupsie. Die woordvoerder, Mabine Seabe, beklemtoon die heropbou van plaaslike regering is van kritieke belang:
# Die adjunkminister van Water en Sanitasie, David Mahlobo, sê daar sal ligte waterbeperkings in dele van die land ingestel word. Dit volg terwyl waterstelsels onder druk is. Hy het gister ‘n toesigbesoek aan Emmarentia in Johannesburg afgelê, waar inwoners betoog het oor voortdurende wateronderbrekings. Mahlobo sê die ligte waterbeperkings sal Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni en dele van Mpumalanga en Noordwes raak:
# Die waarnemende nasionale hoof van Ondersoeke vir die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, Thuso Keefelakae, het aan die Madlanga-kommissie gesê die direktoraat het verneem die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni-metropolisie, Julius Mkhwanazi, gaan binnekort vervolg word. Keefelakae het bevestig dat Mkhwanazi se saak as gevolg van die moordsaak van Emmanuel Mbense en die omstrede blouligte-saak verwys is. ‘n Besluit word voor die einde van die maand verwag. OPOD het ook verwys na ‘n agterstand van elf-duisend sake weens te min ondersoekbeamptes in Ekurhuleni.
# Die tropiese sikloon Gezani het Madagaskar se oostelike kuslyn getref en 31 mense is dood in die eiland se tweede grootste stad, terwyl stormwind en reën ‘n spoor van verwoesting gelaat het. Amptenare het Woensdag gesê 19 mense is beseer en byna een-duisend-500 inwoners in die hawestad Toamasina moes wonings ontruim. Gezani het die land getref, tien dae nadat tropiese sikloon Fytia 14 lewens geëis en meer as 31-duisend mense ontheem het. Gezani het op sy hoogtepunt ‘n rukwind van byna 270 kilometer per uur veroorsaak, wat kragtig genoeg is om metaaldakplate af te ruk en groot bome te ontwortel.
# Rugby: Die Stormers het hul diepte op losskakel vir die volgende paar jaar verseker met Jurie Matthee wat sy kontrak tot 2029 verleng het. Hy ding mee om die posisie met die Springbokke se nommer tien, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Bok-heelagter, Damian Willemse, wat ook losskakel kan speel. Die vyf-en-twintigjarige Matthee het in 2023 by die Kaapse span aangesluit en homself sedertdien as ‘n wedstrydwenner bewys. Die direkteur van rugby, John Dobson, sê Matthee word deur sy spanmaats asook hul teenstanders gerespekteer, en die Stormers is verheug om hom nog so lank te behou.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-86-sent teen die dollar, 18-rand-83-sent teen die euro en 21-rand-61-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-578-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-84-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….