Nuus 12:00
BULLETIN 11 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika meld ‘n daling van 16-persent in renosterstropery in 2025 aan
# Johannesburg Water se werkers beëindig hulle staking
# En rugby: Hollie Davidson van Skotland maak Saterdag Sesnasies-geskiedenis
# Suid-Afrika het verlede jaar ‘n afname van 16-persent in renosterstropery aangeteken – ‘n tweede agtereenvolgende jaarlikse daling. Die Ministerie van Bosbou, Visserye en die Omgewing sê 352 renosters is verlede jaar doodgemaak teenoor 420 in 2024. Stropery in die Krugerwildtuin het egter skerp gestyg, van 88 tot 175. Die Hluhluwe-iMfolozi-park in KwaZulu-Natal het ‘n beduidende verbetering ervaar, met stropery wat tot 63 gedaal het. Minister Willie Aucamp skryf dit toe aan versterkte teenstropings- en -smokkelbedrywighede en beter koördinering tussen wetstoepassingsagentskappe.
# Johannesburg Water sê werkers wat aan die munisipale vakbond SAMWU behoort se staking is na suksesvolle onderhandelings beëindig. Meer as twee-duisend werkers het Vrydag oor onbetaalde bonusse begin staak. Johannesburg Water se woordvoerder, Nondumiso Mabuza, sê die onbeskermde staking het bykomende druk op dienslewering en bedryfsbestendigheid geplaas:
Nuus uit die buiteland:
# Mosambiekse owerhede het vroeë rampmaatreëls ingestel vir die tropiese storm Gezani wat na verwagting in die Mosambiekkanaal tot ‘n sikloon sal ontwikkel. Die provinsies Sofala, Inhambane en Gaza is op hoë gereedheidsgrondslag, met vloedgevare in verskeie rivierkomme. Amptenare vra inwoners om hul huise te beveilig, noodpakkies voor te berei en ontruimings-riglyne te volg. ‘n Miljoen mense kan na raming geraak en belangrike infrastruktuur beskadig word. Storms het vanaf Oktober meer as 200 lewens geëis in Mosambiek.
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, het die dodelike skoolskietery in Tumbler Ridge, Brits-Colombië, as ‘n reuse-tragedie beskryf. Sewe mense is doodgeskiet in Tumbler Ridge Secondary School en nog twee slagoffers is in ‘n nabygeleë woning gevind. Die skieter het selfdood gepleeg. Die provinsie se minister van Openbare Veiligheid, Nina Krieger, sê alle hulpbronne sal ingespan word om deeglik ondersoek in te stel:
# Rugby: Hollie Davidson van Skotland sê dis ‘n reuse-eer om wedstryde in die Sesnasies-reeks te hanteer. Die 33-jarige word Saterdag die eerste vroue-skeidsregter van ‘n manswedstryd in die Sesnasies wanneer Ierland Italië in Dublin ontvang. Sy het tot dusver geblaas in 47 toetse – 34 vroue- en 13 mans-wedstryde – in die Olimpiese en die Statebondspele, asook twee vroue-Wêreldbekertoernooie. Davidson hoop om jong meisies en seuns te inspireer:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-87-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-930-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-53-dollar-71-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….