Nuus 08:00
BULLETIN 11 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die families van die 17 mans wat in Rusland vasgekeer is, vra Ramaphosa om hulp
# Die Stad Johannesburg sê hy is nie op Dag Zero nie
# En krieket: Die Protea-vroue begin die T20-reeks teen Pakistan met ‘n oorwinning
# Die families van die 17 mans van Suid-Afrika wat in die oorlog tussen Rusland en Oekraïne vasgekeer is, sê hulle is gefrustreerd met die trae vordering om te verseker dat die groep veilig terugkeer. Die mans is in Julie na Rusland gelok onder die indruk dat hulle as lyfwagte opgelei sal word. President Cyril Ramaphosa en die Russiese president, Vladimir Putin, het onderneem om die proses te ondersteun om die mans na Suid-Afrika te laat terugkeer. Phumla Zuma, wie se twee seuns deel is van die groep, sê die mans is onskuldig:
# Die sentrum vir ontwikkeling en onderneming sê die regering van nasionale eenheid maak wel vordering, maar die gevaar van ontwrigtende beleidsveranderinge op die medium en lang termyn is ‘n werklikheid. Die dinkskrum oor openbare beleid se uitvoerende direkteur, Ann Bernstein, sê misdaad, korrupsie, regeringsmislukking, infrastruktuur-verval en swak toepassingsvermoë bestaan steeds en ondermyn vertroue. Sy sê baie hervormings word gekniehalter deur vertragings, verwatering of omkering – nou of indien ʼn nuwe president verkies word – terwyl ander afhanklik is van instellings wat nog volhoubare bevoegdheid moet bewys.
# Die Stad Johannesburg sê die metro het nog nie Dag Zero bereik nie, en die waterstelsel bly onder druk maar is bestendig. Dag Zero verwys na die oomblik wanneer ʼn stad se watervoorraad sulke lae vlakke bereik dat owerhede gedwing word om toegang tot water drasties te beperk. Inwoners beleef die afgelope weke reeds watertekorte. Die metro-woordvoerder, Virgil James, sê die waterstelsel is onder druk weens hoë aanvraag, infrastruktuurbeperkings en voortslepende voorsieningsprobleme:
# Die Withuis weier om te sê of president Donald Trump in 2006 met die Palm Beach-polisiedepartement oor wyle Jeffrey Epstein gepraat het. Volgens ʼn FBI-dokument in die Epstein-lêers wat onlangs bekendgemaak is, beweer die gewese polisiehoof van Florida, Michael Reiter, hy het ʼn telefoonoproep van Trump ontvang waarin hy gesê het almal weet van Epstein se gedrag. Die Withuis se perssekretaris, Karoline Leavitt, sê Trump ontken steeds hy het wat Epstein betref, enige iets verkeerd gedoen:
# Krieket: Die Protea-vroue het Pakistan met vyf paaltjies verslaan in die eerste T20 in Potchefstroom en loop met 1-0 voor in die reeks van drie wedstryde. Fatima Sana het 90 lopies aangeteken en die besoekers se telling op 180 vir nege te staan gebring. Suid-Afrika het daarna hul hoogste suksesvolle T20-lopieteiken bereik met Laura Wolvaardt se 61 en nuweling Kayla Reyneke se onoorwonne 29. Dit sluit die wenlopies in die laaste boulbeurt in wat die tuisspan se oorwinning verseker het. Die reeks is deel van Suid-Afrika se voorbereiding vir die Vroue T20-Wêreldbeker in Engeland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-69-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-48-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….