Nuus 18:00
BULLETIN 10 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Build One South Afrika sê 2026 is ‘n beslissende oomblik vir Suid-Afrika voor die staatsrede
# Die Forum for South Africa veroordeel Nersa se goedkeuring van ‘n bykomende 54,7-miljard-rand in toegelate inkomste vir Eskom
# En, Thabo Bester se aansoek om oordrag na eBongweni-korrektiewe sentrum te keer word uitgegooi
# Build One South Africa het president Cyril Ramaphosa versoek om Donderdag se staatsrede te gebruik om beslissende aksie en duidelike nasionale optrede te lewer. Die party sê 2026 is ‘n beslissende oomblik vir Suid-Afrika, met gemeenskappe wat met misdaad, werkloosheid, hoë lewenskoste en gebrekkige dienste moet saamleef. BOSA-leier Mmusi Maimane dring daarop aan dat Ramaphosa die integriteit van polisiëring en die regstelsel herstel, ekonomiese groei versnel, gebrekkige infrastruktuur regmaak en onderwys verbeter:
# Die Forum for South Africa is erg bekommerd en sterk gekant teen die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika se goedkeuring van Eskom se bykomende toegelate inkomste van 54,7-miljard-rand. Dit sal verbruikers in die 2026/2027-boekjaar, vanaf 1 April belas met elektrisiteitsprysverhogings van 8,76-persent, en 8,83-persent in die 2027/2028-boekjaar. FOSA se leier, Tebogo Mashilompane, sê Nersa se besluit is onregverdigbaar en maatskaplik roekeloos:
# Die Hooggeregshof in Pretoria het ‘n dringende aansoek deur die veroordeelde moordenaar en verkragter Thabo Bester, wat sy oordrag na die eBongweni Korrektiewe Sentrum in KwaZulu-Natal betwis, van die rol geskrap. Bester se prokureurs voer aan dat die skuif hulle verhinder om met hom te konsulteer voor sy hoofverhoor. Regter Mamoloko Kubushi het egter beslis die saak is nie dringend nie. Bester, wat voorheen uit die Mangaung Korrektiewe Sentrum ontsnap het, het gekla oor die toestande by die land se enigste super-maksimum-sekuriteitsgevangenis.
# Die president van Frankryk, Emmanuel Macron waarsku dat Europa homself moet voorberei vir meer voorvalle van Amerikaanse vyandigheid. Hy doen ’n beroep op leiers van die Europese Unie om dié week se beraad by ’n Belgiese kasteel te gebruik om nuwe momentum in ekonomiese hervormings te plaas en die blok se wêreldwye mag te versterk. Macron sê die vasteland moet – wat hy die “Groenland-oomblik” noem – as ‘n wekroep beskou om lank uitgestelde hervormings deur te voer. Hy het sy oproep herhaal dat die EU Europese lenings aan wêreldmarkte moet bied wat toenemend versigtig is vir die Amerikaanse dollar.
# Rugby: Die veelsydige voorspeler Hadjivah Dayimani gaan volgens berigte die res van die seisoen vir die Stormers speel. Hy verlaat sy Franse klub Racing 92 om die gaping te vul weens die beserings van die slotte Salmaan Moerat en Ruben van Heerden. Dayimani het vir die Kaapse span gespeel toe hulle die Verenigde Rugbykampioenskap in 2022 gewen het voor hy oorsee is. News24 berig hy sal na verwagting later die week by die Stormers aansluit en beskikbaar wees vir die VRK-wedstryd teen die Leeus die 28ste in Johannesburg.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-410-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-61-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 68-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….