Nuus 16:00
BULLETIN 10 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan weier om te getuig oor sake van voor 1990
# ‘n Onbeskermde Samwu-staking tref Johannesburg Water te midde van wateronderbrekings
# En krieket: Die IKR gaan Bangladesj nie straf omdat hy die T20-Wêreldbekertoernooi boikot nie
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan weier om vrae oor kwessies van voor 1990 te beantwoord voor die parlementêre ad hoc-komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. Dit is weens kommer oor veiligheid ná verskeie aanslae op sy lewe. Die EFF-leier, Julius Malema, het daarop gewys hy het onder eed beloof om alle vrae te beantwoord. O’Sullivan sê hy sou saamwerk indien sy veiligheid nie in gedrang was nie:
# Werknemers van Johannesburg Water het begin met ‘n onbeskermde staking oor onbetaalde bonusse terwyl die stad worstel met ‘n verergerende waterkrisis. Die munisipale vakbond Samwu sê werknemers is nie behoorlik geraadpleeg voor aftrekkings gedoen is nie. Die staking val saam met verminderde toevoer na Johannesburg en Tshwane weens hoë verbruik, wat bykomende druk op die stelsel plaas. Johannesburg Water sê hulle gebruik goedgekeurde kontrakteurs om noodsaaklike dienste te handhaaf en waarsku stakers hulle sal nie betaal word nie.
# Die Vryheidsfront Plus verwerp Graaff-Reinet in die Oos-Kaap se naamsverandering na Robert Sobukwe Town, en sê dit vee Afrikanergeskiedenis uit. Die party se leier, Corné Mulder, voer aan dit toon regeringsonbevoegdheid aangesien basiese dienste in die gemeenskap ontbreek. Mulder sê Graaff-Reinet, bekend as die Juweel van die Karoo, se kulturele en geskiedkundige betekenis strek verder as Afrikanergemeenskappe. Hy versoek inwoners en die breër Oos-Kaap om die voorstel te verwerp:
Nuus uit die buiteland:
# ‘n Energie-aanleg in Oekraïne se suidelike Swartsee-streek, Odesa, is tydens ‘n Russiese aanval beskadig en groot gebiede is tans sonder krag. Die kragonderneming DTEK sê daar is omvattende skade en die herstelwerk sal lank duur. Die streeksgoewerneur, Oleh Kiper, het vroeër bevestig sekere nedersettings in die streek is sonder krag. Moskou het sedert Oktober sy aanvalle op die Oekraïnse kragnetwerk verskerp, wat miljoene mense in ysige weer sonder verhitting gelaat het.
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het besluit om geen sport-, finansiële of administratiewe boetes teen Bangladesj in te stel nie nadat dié land geweier het om aan die T20-Wêreldbekertoernooi in Indië deel te neem. Bangladesj weier om deel te neem weens politieke spanning en kommer oor veiligheid, waarna hy deur Skotland vervang is. Die IKR se uitvoerende hoof, Sanjog Gupta, sê Bangladesj se afwesigheid is jammer, maar verander nie die organisasie se toewyding aan die land as ‘n belangrike krieket-nasie nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-92-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-716-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-45-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….