Nuus 14:00
BULLETIN 10 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan verduidelik sy veelvuldige burgerskapstatus
# Die Nasionale Verbruikerskommissie onttrek ButtaNutt-grondboontjiebotter
# En krieket: Die eerste T20 tussen die Protea-vroue en Pakistan word vanaand in Potchefstroom beslis
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het sy burgerskap van drie lande bevestig – Suid-Afrika, Ierland en Groot-Brittanje – en sê hy dra aldrie paspoorte vir sy gerief wanneer hy reis. Hy getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. O’Sullivan sê hy bly getrou aan Suid-Afrika, aangesien hy al 40-jaar in die land woon:
# Die GOOD-party vra president Cyril Ramaphosa om aandag te gee aan vier groot kwessies tydens Donderdag se staatsrede. Dit is ekonomiese groei, onderwys, strafreg en behuising. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê Ramaphosa kan nie bekostig om op sy louere te rus oor die eerste tekens van ‘n ekonomiese oplewing verlede jaar nie en dit is ook nie sy taak om ontstelde Amerikaanse MAGA-verwante emosies te sus nie:
Intussen het Wyn-SA die regering gevra om die Landbou- en Landbouverwerkingsmeesterplan vinnig in te stel. Die bedryfsorganisasie vra duidelike, tydsgebonde verbintenisse in die staatsrede. Die uitvoerende hoof, Rico Basson, sê dit moet gerugsteun word deur befondsing, beleidsekerheid en verantwoordbaarheid. Hy beklemtoon vinniger instelling sal groei in uitvoere, wyntoerisme, landelike werkgeleenthede en inklusiewe ontwikkeling ontsluit, en beklemtoon samewerking en uitvoering is van kritieke belang.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie het sekere ButtaNutt-grondboontjiebotterprodukte onttrek weens aflatoksien-vlakke wat die wettig toegelate perk oorskry. Aflatoksien is ‘n gifstof wat veroorsaak word deur muf wat in voedselprodukte soos grondbone ontwikkel wanneer dit in swak omstandighede geberg of verwerk word. Die kommissie se woordvoerder, Pheto Ntaba, sê die betrokke produkte is een-kilogram- en 2,5-kilogramhouers 100-persent grondboontjiebotter en sjokolade-grondboontjiebotter-houers van 250-gram:
# Krieket: Suid-Afrika en Pakistan se vrouespanne speel vanaand die eerste van drie T20-wedstryde in Potchefstroom, Noordwes. Die ander twee wedstryde word Vrydag en Maandag in Benoni, Gauteng, beslis. Die laaste kragmeting was aanvanklik geskeduleer vir Kimberley in die Noord-Kaap, maar die sportveld het nie aan die vereiste standaarde voldoen nie. Die reeks word as voorbereiding gebruik vir die T20-Wêreldbekertoernooi wat op 12 Junie in Engeland begin. Die reeks word gevolg deur drie eendagwedstryde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-91-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-74-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-161-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-48-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….