Nuus 12:00
BULLETIN 10 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan beskryf sy aanklaers as misdadigers
# Twee mense sterf in nog ‘n Amerikaanse aanval op ‘n beweerde dwelmsmokkelboot
# En motorsport: Fernando Alonso is gereed vir die nuwe seisoen maar onseker oor sy F1-toekoms
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan beskryf die mense wat hom beskuldig as misdadigers. Hy het met SABC News gepraat voor sy getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee. O’Sullivan sê hy het 36-jaar lank misdaad ondersoek en gehelp om senior polisiebeamptes agter tralies te sit. Hy sê hernude aanvalle weerspieël vorige teistering, en dat die onwettige besit van telefoonrekords strafregtelik is. O’Sullivan sê hy sal die waarheid aan die komitee ontbloot:
# Die Raad van Gesondheidsorg-befondsers vra president Cyril Ramaphosa om Donderdag kragtige en bekostigbare gesondheidshervormings aan te kondig in sy staatsrede. Katlego Mothudi van die raad sê praktiese ingrypings word benodig wat onmiddellik gesondheidsorgkoste kan verminder en toegang tot gehaltediens kan verbeter. Hy sê daar is lewensvatbare oplossings wat die regering nou kan instel om die druk te verlig, veral terwyl die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering steeds in howe uitgedaag word:
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Basiese Onderwys verwelkom die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se besluit om ses leerders van Milnerton High in Kaapstad uit te skop ná ‘n tugproses wat verband hou met ernstige wangedrag. Beeldmateriaal van die groep wat ‘n mede-leerder aanrand is in Oktober verlede jaar wyd rondgestuur. Hulle is aangekla van aanranding met die opset om ernstig te beseer. Die voorsitter, Joy Maimela, het skole reg oor die land gevra om dissiplinêre raamwerke, gedragskodes en voorkomende programme te versterk om wangedrag vroegtydig aan te pak.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag sê twee mense is dood in sy jongste aanval op ‘n beweerde dwelmsmokkelboot in die oostelike Stille Oseaan. Een persoon het oorleef. Dit is die derde aangetekende aanval vanjaar en minstens 130 mense is nou dood in 38 aanvalle op vermeende dwelmsmokkelbote. Dit vorm deel van Operation Southern Spear, ‘n veldtog wat volgens president Donald Trump se administrasie ten doel het om dwelmsmokkelary hok te slaan. Regskenners noem die aanvalle ‘n reeks onregmatige moorde deur die Pentagon.
# Motorsport: Die tweemalige wêreldkampioen, Fernando Alonso, is gereed om op die hoogste vlak deel te neem, maar onseker oor sy langtermyntoekoms in Formule Een. Die 44-jarige Spanjaard het in 2013 laas ‘n Grand Prix gewen vir Ferrari, en in 2005 en 2006 sy titels vir Renault beklink. Alonso, wat in 2023 by Aston Martin aangesluit het, sê al is hy die oudste F1-renjaer, is hy steeds oorgehaal vir die uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-723-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-41-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-68-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….