Nuus 11:00
BULLETIN 10 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Mcebisi Jonas sê onversetlike beleide is nodig om belegging na die mynbousektor te lok
# Die hoof van die Verenigde Nasies is bekommerd oor Israel se nuwe maatreëls aan die Wesoewer
# En motorsport: Fernando Alonso is gereed vir die nuwe seisoen maar onseker oor sy F1-toekoms
# President Cyril Ramaphosa se spesiale beleggingsgesant, Mcebisi Jonas, sê Suid-Afrika het dringend beslissende en onversetlike beleide nodig om betekenisvolle belegging na die mynbedryf te lok. Die mynbedryf en sy regstreekse verskaffers ondersteun byna 900-duisend werksgeleenthede en die voortbestaan van 3,6-miljoen landsburgers. Jonas het op die Mynbou-indaba in Kaapstad gesê daar is steeds aansienlike beleggingsmoontlikhede in die mynbedryf, maar geleenthede neem af. Hy sê die gevaar is by gapings in beleidsgleuwe en die beplanningsiklus.
# AfriForum sê verbruikers betaal weereens die prys vir Eskom se jare van strukturele en bestuursmislukkings. Verbruikers sal van 1 April opgesaal wees met prysverhogings van 8,76-persent vir die 2026/2027-boekjaar, en 8,83-persent vir die volgende-boekjaar. Dit volg nadat die energiereguleerder, Nersa, sy herbepaling van toelaatbare inkomste vir Eskom bepaal het. Deidré Steffens van AfriForum sê hulle sal die redelikheid van Nersa se besluit ondersoek:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekenings sal die voorlopige raamwerk van sy verslag dié week oorweeg met die eindfase van sy oorsigondersoek na die Padongelukkefonds. SKOOR sê verskeie probleme is in die ondersoek van tien-weke identifiseer en sal in die finale verslag aandag kry. Dit sluit in die fonds se besluit om sy paneel regsgeleerdes te kanselleer, wat gelei het tot foutiewe regsuitsprake wat nou al 15,7-miljard-rand beloop, en die instel van die nuwe fonds-eisvorm wat van eisers vra om tot 100-duisend-rand te betaal om ‘n eis in te dien.
Nuus uit die buiteland:
# Die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, António Guterres, is bekommerd oor die Israelse veiligheidskabinet se goedkeuring van ‘n reeks administratiewe en regsmaatreëls in Gebiede A en B aan die besette Wesoewer. Die doel is om aan Israel meer beheer te gee oor eiendomswet, beplanning, lisensiëring en wetstoepassing in die gebied. Woordvoerder Stephane Dujarric sê Guterres vra alle partye om die enigste pad na blywende vrede, naamlik ‘n tweestaat-oplossing, te volg:
# Motorsport: Die tweemalige wêreldkampioen, Fernando Alonso, is gereed om op die hoogste vlak deel te neem, maar onseker oor sy langtermyntoekoms in Formule Een. Die 44-jarige Spanjaard het in 2013 laas ‘n Grand Prix gewen vir Ferrari, en in 2005 en 2006 sy titels vir Renault beklink. Alonso, wat in 2023 by Aston Martin aangesluit het, sê al is hy die oudste F1-renjaer, is hy steeds oorgehaal vir die uitdaging:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-78-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-52-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-28-dollar-51-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-82-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….