Nuus 09:00
BULLETIN 10 Februarie 9 vm
Goeiemôre.. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom minister Gwarube se poging om toegang tot wiskunde uit te brei
# SKOOR beweeg na die eindfase van sy tien weke lange ondersoek na die Padongelukkefonds
# En daar is geen onmiddellike bedreiging vir Suid-Afrika van die tropiese storm Gezani nie
# Die DA verwelkom die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, se pogings om provinsies aan te moedig om vanjaar weer wiskunde in graad 10 in te stel. Landwyd bied 435 skole sedert 2024 nie graad 12-wiskunde aan nie. Die meeste, naamlik 130, is in KwaZulu-Natal, gevolg deur die Oos-Kaap met 85. Ciska Jordaan van die DA sê deur wetenskap, tegnologie, ingenieursvakke en wiskunde te leer, word noodsaaklike vaardighede soos logiese redeneervermoë, analitiese vaardighede en probleemoplossing ontwikkel:
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekenings sal die voorlopige raamwerk van sy verslag die week oorweeg met die eindfase van sy oorsigondersoek na die Padongelukkefonds. SKOOR sê verskeie probleme is in die ondersoek van tien-weke identifiseer en sal in die finale verslag aangespreek word. Dit sluit in die fonds se besluit om sy paneel regsgeleerdes te kanselleer wat gelei het tot foutiewe regsuitsprake wat nou al 15,7-miljard-rand beloop, en die instel van die nuwe fonds-eisvorm wat van eisers vra om tot 100-duisend-rand te betaal om ‘n eis in te dien.
# Die ANC-jeugliga in Gauteng vra ‘n spoedige oplossing vir die voortslepende geskil tussen die provinsiale Onderwysdepartement en leerdervervoer-operateurs. Die Gauteng Small Bus Operators Council het verlede week begin staak oor onbetaalde fakture, en duisende leerders wat van die gesubsidieerde stelsel afhanklik is, gestrand gelaat. ʼn Jeugliga-woordvoerder, Palese Molefe, sê daar is kommerwekkende berigte dat sekere amptenare 20-persent eis van die betalings wat vir leerdervervoer-operateurs bedoel is:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens monitor noukeurig die matige tropiese storm Gezani in die suidwestelike Indiese Oseaan, oos van Madagaskar. Die storm sal na verwagting vandag die oostelike dele van Madagaskar bereik en moontlik versterk voor dit land bereik. Tokelo Chiloane van die weerdiens sê Gezani sal moontlik verswak nadat dit oor Madagaskar beweeg het, maar kan weer versterk wanneer dit later in die week die Mosambiekkanaal bereik:
# Krieket: Die Internasionale Krieketraad het bevestig Pakistan se wedstrydbepaling teen Indië in die T20-Wêreldbekertoernooi gaan Saterdag soos geskeduleer voort. Die Pakistanse regering het verlede week sy span gelas om die Groep A-wedstryd te boikot om eenheid met Bangladesh te toon, wat weens kommer oor veiligheid geweier het om in Indië te toer en met Skotland vervang is. Die Krieketraad sê alle betrokke partye is vasbeslote in hul pogings om die spel met integriteit, onpartydigheid en samewerking te dien.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-702-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-24-dollar-99-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….