Nuus 08:00
BULLETIN 10 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan voor sy staatsrede aan ‘n tafelronde met jeug deelneem
# Die ANC verwelkom Paul O’Sullivan se besluit om persoonlik voor die ad hoc-komitee te verskyn
# En Koning Charles is gereed om die polisie te ondersteun in hul ondersoek na sy broer Andrew
# Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap bied vandag in Khayelitsha, Kaapstad ‘n konferensie aan saam met president Cyril Ramaphosa en talle ander ministers. Dis deel van ʼn reeks voortgesette gesprekke waar die president in aanloop tot Donderdag se staatsrede met rolspelers beraadslaag. Die konferensie bied jong Suid-Afrikaners ʼn regstreekse en openlike gesprek met Ramaphosa en lede van die Nasionale Uitvoerende Gesag. Die Presidensie sê Ramaphosa sal met die jeug praat oor hul standpunte, uitdagings en idees vir die nasie se toekoms.
# Die ANC verwelkom die bevestiging dat die forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, vandag en môre in persoon voor die parlementêre ad hoc-komitee sal verskyn. O’Sullivan het vroeër geweier om fisies te verskyn en gevra om weens kommer oor veiligheid virtueel te getuig. ANC-hoofsweep Mdumiseni Ntuli het aan die SABC gesê O’Sullivan se getuienis is noodsaaklik om die beweerde insypeling in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en strafregstelsel te verstaan:
# AfriForum het die regering versoek om voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer te laat vaar en op korrupsie binne staatsinstellings te fokus. Die versoek volg nadat ‘n voormalige polisiebeampte en verklikker, Patricia Mashale, aan ‘n parlementêre ad hoc-komitee gesê het die polisie en ander staatsinstellings het vuurwapens aan misdadigers verkoop en nie vernietig nie. Jacques Broodryk van AfriForum sê die regering moet ophou om wetsgehoorsame burgers te teiken en fokus op die bekamping van staatskorrupsie:
# Buckingham-paleis sê koning Charles sal die polisie ondersteun wanneer hulle bewerings teen sy broer, Andrew Mountbatten-Windsor, ondersoek. Die polisie in Thames Valley ondersoek bewerings dat Mountbatten-Windsor vertroulike dokumente met die veroordeelde seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein, gedeel het toe die voormalige hertog die Verenigde Koninkryk se handelsgesant was. Hy ontken enige verkeerde optrede wat Epstein betref. Buckingham-paleis sê koning Charles het dit in woorde en ongekende optrede duidelik gestel dat hy uiters bekommerd is oor bewerings oor Mountbatten-Windsor se gedrag wat steeds aan die lig kom.
# Olimpiese Spele: Die tweemalige wêreldkampioen en Alpeski-superster, Lindsey Vonn, sê sy het geen berou nadat sy in Italië geval en haar been gebreek het in haar poging om ʼn Olimpiese goue medalje te wen nie. Die 41-jarige Vonn wat vroeër die week kruisligamente in haar linkerknie geskeur het, het Sondag in die vroue se afdraand-kompetisie geval. Sy het ʼn ingewikkelde tibia-breuk opgedoen en sal talle operasies moet ondergaan. Vonn sê dat sy daar kon staan en geleentheid gehad het om te wen, is reeds ʼn oorwinning.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-94-sent teen die euro en 21-rand-76-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-753-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-24-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….