Nuus 07:00
BULLETIN 10 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê Paul O’Sullivan se verskyning voor die ad hoc-komitee is te danke aan die EFF se druk
# Advokaat Kemi Behari sê aan die Madlanga-kommissie sy salarisverhoging is geregverdig
# En Ghislaine Maxwell weier om die Amerikaanse Kongres se vrae te beantwoord
# Die EFF-leier Julius Malema sê die privaat forensiese ondersoeker, Paul O’Sullivan, se verskyning voor die parlementêre ad hoc-komitee is te danke aan sy party se volgehoue druk. Die komitee ondersoek bewerings van politieke inmenging in die land se strafreg-sektor. O’Sullivan sal in persoon verskyn nadat sy aansoek om virtueel te verskyn, geweier is. Malema sê O’Sullivan se veiligheid word nie bedreig nie:
# Die geskorste hoof van regs- en risikodienste in die Stad Ekurhuleni, Kemi Behari, het bewerings ontken dat hy ‘n lojaliteitsbonus van 600-duisend-rand ontvang het omdat hy die geskorste waarnemende adjunkhoof van die Metropolisie, Julius Mkhwanazi, beskerm het. Behari het voor die Madlanga-kommissie getuig en gesê die bewerings is vals en daarop gemik om sy reputasie te skaad. Hy sê sy salarisverhoging weerspieël ekstra verantwoordelikhede. Hy het enige betrokkenheid by die toesmeer van wangedrag verwerp:
# COPE veroordeel die ANC vir die stelselmatige ineenstorting van die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley in die Noord-Kaap. Die party sê munisipale leierskap verontagsaam hofbevele en inwoners sukkel sonder water, krag en behoorlike sanitasie, met paaie wat agteruitgaan en vullis wat ophoop. Pakes Dikgetsi van COPE sê munisipale werkers het ‘n sitstaking gehou oor swak werksomstandighede en vakbonde waarsku oor die moontlike onderbreking van dienste.
# Ghislaine Maxwell, veroordeelde vennoot van seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein, het gister geweier om agter geslote deure vrae voor die Kongres te beantwoord en haar beroep op haar reg teen selfbeskuldiging. Sy dien tans ‘n vonnis van 20 jaar uit vir sekshandel. Tydens ʼn video-verskyning uit die tronk, het Maxwell haar op Amerika se Fifth Amendment beroep en gevra vir begenadiging van president Donald Trump. Die Huis se oorsigvoorsitter, James Comer, het Maxwell se besluit om haar op die Wysigingswet te beroep, as teleurstellend beskryf en sê wetgewers het baie vrae oor haar en Epstein se misdade.
# Krieket: Italië is erg bekommerd oor die fiksheid van kaptein Wayne Madsen nadat hy sy skouer tydens hul eerste T20-Wêreldbeker-groepwedstryd ontwrig het. Die 42-jarige het hard geval in die vierde boulbeurt in sy land se debuutwedstryd teen Pakistan, wat hulle met drie paaltjies verloor het. Hulle speel Donderdag teen Nepal in Mumbai, Indië, voordat hulle Maandag teen Engeland in Kolkata te staan kom en op die 19de teen die Wes-Indiese Eilande, ook in Kolkata. Madsen is ‘n voormalige Suid-Afrikaanse internasionale hokkiespeler en ‘n staatmaker in graafskapskrieket vir Derbyshire.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-89-sent teen die dollar, 18-rand-92-sent teen die euro en 21-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-358-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-30-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-60-sent per vat.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa het hulde gebring aan biskop John Bolana en hom as ʼn stem van rede beskryf. Die 82-jarige Bolana, die vyfde biskop van die Bantu Church of Christ, is verlede Dinsdag na ʼn kort siekbed in Gqeberha in die Oos-Kaap dood. Hy word tydens ʼn Spesiale Provinsiale Amptelike Kategorie 2-begrafnis ter ruste gelê. Ramaphosa het gister die oorlede biskop se gesinswoning in Gqeberha besoek en sê Bolana was ʼn geestelike reus:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….