Nuus 15:00
BULLETIN 9 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kemi Behari beskryf ‘n vyandige klimaat en politieke inmenging in Ekurhuleni
# ‘n Waarskuwing word uitgereik vir gure weerstoestande in die Wes-Kaap
# En rugby: Die Blitsbokke is nou tweede op die wêreldreeks-punteleer ná hulle sege in Perth
# Ekurhuleni se geskorste hoof van Risiko- en Regsdienste, Kemi Behari, het voor die Madlanga-kommissie getuig die Gautengse stad het in ‘n vyandige werksplek ontaard, gekenmerk deur politieke inmenging en ernstige wantroue onder werknemers. Behari het spanning rondom bevorderings en bestuursmislukkings genoem, soos die afsluiting van die Metro-polisiedepartement nadat oortyd sonder raadpleging verminder is. Hy beklemtoon talle beamptes bly toegewyd, maar ingewortelde bestuursprobleme en inmenging ondermyn bestendigheid en dienslewering:
Intussen het die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan beklemtoon hy gaan môre in camera getuig voor die parlementêre komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. Hy het vroeër geweier om persoonlik te verskyn weens veiligheidsbekommernis, en het versoek om virtueel te getuig vanuit ‘n Suid-Afrikaanse ambassade. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het bewerings ontken dat sy O’Sullivan beskerm en sê hy’t nie geweier om te verskyn nie, maar ingevolge die reëls aansoek gedoen. Volle sekerheidsmaatreëls sal van krag wees.
# Die Wes-Kaapse rampbestuurspan sê die provinsie kan uiterste weerstoestande te wagte wees nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens ‘n Geel Vlak 4-waarskuwing uitgereik het vir erge donderstorms met swaar reën, hael, sterk wind en ‘n gevaar van plaaslike oorstromings. Die Kaapse Wynland- en die Overberg-streek word veral geraak. Woordvoerder Colin Deiner sê inwoners kan onstuimige, nat en winderige toestande verwag met moontlike reisontwrigtings:
# Forum for South Africa steun die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se onttrekking aan die Verenigde Nasies se MONUSCO-vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo. Die regering sê die eensydige onttrekkingsbesluit word beïnvloed deur die behoefte om die Weermag se hulpbronne te hervorm. Die forum se leier, Tebogo Mashilompane, sê Suid-Afrika het 27-jaar lank bloed, hulpbronne en belastingbetalersgeld toegewy aan ‘n sending wat nie blywende vrede kon bewerkstellig nie:
# Rugby: Die Blitsbokke het na tweede plek in die seweswêreldreeks opgeskuif na hul oorwinning oor die eerste-geplaaste Fidji in gister se eindstryd van die toernooi in Perth, Australië. Dit is Suid-Afrika se tweede titel tot dusver die seisoen na hulle in Desember in Kaapstad gewen het, maar met minder gunstige uitslae in Dubai en Singapoer. Die Blitsbokke is vier punte agter die eilandbewoners. Nieu-Seeland is nou derde, gevolg deur Frankryk, Australië, Argentinië, Spanje en Groot-Brittanje. Die volgende toernooi word van 7 Maart in Vancouver, Kanada, gespeel
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-837-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-2-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….