Nuus 14:00
BULLETIN 9 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Paul O’Sullivan gaan môre in camera getuig voor die Parlement se ad hoc-komitee
# Gwede Mantashe sê die mynbousektor en privaat vennootskappe is die sleutel tot volhoubare ontwikkeling
# En krieket: Skotland klop Italië met 73 lopies in die T20-Wêreldbekertoernooi
# Die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan het beklemtoon hy gaan môre in camera getuig voor die parlementêre komitee wat beweerde politieke inmenging in die strafregstelsel ondersoek. Hy het vroeër geweier om persoonlik te verskyn weens veiligheidsbekommernis, en het versoek om virtueel te getuig vanuit ‘n Suid-Afrikaanse ambassade. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het bewerings ontken dat sy O’Sullivan beskerm en sê hy’t nie geweier om te verskyn nie, maar ingevolge die reëls aansoek gedoen. Volle sekerheidsmaatreëls sal van krag wees.
# Die minister van Minerale Hulpbronne en Energie, Gwede Mantashe, beklemtoon die Mynbou-indaba in Kaapstad is ‘n platform vir wêreldleiers en beleggers om oor die toekoms van mynbou in Suid-Afrika en in Afrika te praat. Hy beklemtoon verantwoordelike mynbou en strategiese samewerking met die privaat sektor, kan werksgeleenthede skep en beleggings lok. Mantashe voeg by dit ondersteun ook volhoubare ontwikkeling en ontsluit nuwe ekonomiese geleenthede vir gemeenskappe en die land:
# Die Oos-Kaapse Gesondheidsdepartement sê vier kinders is uit die hospitaal ontslaan nadat hulle opgeneem is na ‘n vermeende voorval van voedselvergiftiging in Msintsi naby Fort Jackson. Sewe seuns van tussen twee en ses jaar is Vrydag in die Cecilia Makiwane-hospitaal opgeneem met simptome soos swakheid, naarheid, diarree en duiseligheid. Die departement se woordvoerder, Camagwini Mavovana, sê twee het gesterf en een is steeds in die hospitaal:
# Verskeie mense is beseer toe ‘n bus in Reservoir Hills in die weste van Durban omgeslaan het. Nooddienste is op die toneel, met privaat ambulanspersoneel wat beseerdes bystaan. Die woordvoerder, Garrith Jamieson, sê tussen 15 en 20 passasiers is beseer. Die pad is gesluit en motoriste word versoek om alternatiewe roetes te gebruik. Ondersoek word ingestel na die oorsaak van die ongeluk.
# Krieket: Skotland het Italië met 73 lopies geklop in hul T20-Wêreldbekerwedstryd in Kolkata, Indië. Die Skotte het ‘n goeie 207 vir vier aangeteken danksy George Munsey se 84 en Brandon McMullen se onoorwonne 41. Italië is uitgeboul vir slegs 134 in hul 17de boulbeurt ondanks Ben Manenti se 52 vanaf slegs 31 balle. Michael Leask het vier paaltjies laat kantel en Mark Watt twee. Vandag se ander twee wedstryde is tussen Zimbabwe en Oman in Colombo, Sri Lanka, gevolg deur Suid-Afrika se openingswedstryd teen Kanada in Ahmedabad, Indië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-54-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-990-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….