Nuus 13:00
BULLETIN 9 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kemi Behari rig ‘n waarkuwing oor onreëlmatige prosesse in die Stad Ekurhuleni
# Die VF Plus sê Emfuleni is uiteindelik in die hof vir jare se besoedeling van die Vaalrivier
# En rugby: Feyi-Waboso is dalk uit vir die res van Engeland se Sesnasies-veldtog
# Ekurhuleni se geskorste hoof van Risiko- en Regsdienste, Kemi Behari, het voor die Madlanga-kommissie getuig hy het wydverspreide onreëlmatighede in verskeie departemente ontdek, insluitend Menslike Hulpbronne en die Metropolisie. Hy sê hy was onder druk van prokureurs oor onbetaalde fooie wat jare terugdateer en arbeidsake het gereeld verlore gegaan, wat die Gautengse stad baie gekos het. Behari beklemtoon ook swak beheermaatreëls het bygedra tot stygende regskoste en mislukkings in aanspreeklikheid:
# Die Vryheidsfront Plus in Gauteng sê die Emfuleni-munisipaliteit is uiteindelik volgende maand in die hof om te verduidelik waarom miljoene liter onbehandelde riool elke dag in die Vaalrivier beland. Die party het ‘n formele klagte by die Groen Skerpioene ingedien en reeds in Mei 2020 ‘n ondersoek aangevra. Gerda Senekal van die VF Plus sê ‘n strafregtelike klag is gelyktydig teen die destydse administrateur ingedien:
# Die vakbondfederasie Cosatu verwelkom die regering se besluit om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se soldate te onttrek aan die Verenigde Nasies se vredesending in die Demokratiese Republiek die Kongo. Suid-Afrika dra sedert 1999 sy soldate by tot die sending, MONUSCO. Matthew Parks van Cosatu sê vredesendings kan slegs suksesvol wees met die nodige onderhandelinge en politieke wil van die strydende partye:
# Die Oekraïense president, Volodimir Zelensky, sê die Russiese energie-infrastruktuur is ‘n teiken vir aanvalle, aangesien die energiesektor ‘n bron van fondse vir die vervaardiging van wapens is. Rusland het Kiëf se energienetwerk geteiken in ‘n reeks aanvalle wat as Moskou se misbruik van die winter beskryf word. Moskou het Oekraïne se energiesektor vanjaar meer as 200 keer aangeval, met die jongste aanvalle oor die naweek, waarin meer as 400 hommeltuie gebruik is. Zelensky sê Rusland kan elke dag ware diplomasie kies, maar kies eerder nuwe aanvalle.
# Rugby: Die Engelse vleuel Immanuel Feyi-Wabosa kan dalk die hele Sesnasies misloop na hy verlede week sy agterknie-sening beseer het tydens oefening. Die 23-jarige het Saterdag se sege van 48-7 oor Wallis misgeloop en word ook nie oorweeg vir komende Saterdag se kragmeting met Skotland op Murrayfield nie. Afrigter Steve Borthwick het verskeie ander moontlikhede op vleuel, insluitend Henry Arundell, Tom Roebuck, Tommy Freemand en Elliot Daly. Engeland het drie van hulle laaste vier wedstryde in Edinburgh verloor, maar vertrek na die Skotse hoofstad met 12 agtereenvolgende toetsoorwinnings.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-97-sent teen die euro en 21-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-835-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-25-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….