Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 9 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Springbok-sewesafrigter, Philip Snyman, het sy spelers geprys vir hulle oorwinning in die Perth-sewestoernooi nadat hulle verlede naweek in Singapoer slegs vierde kon eindig. Suid-Afrika het Fidji 21-19 verslaan om hul eerste titel in Australië te verower sedert 2017. Nieu-Seeland se vroue het die gasvroue 29-7 geklop om hul derde titel van die seisoen te verower. Snyman sê die eindstryd-oorwinning was te danke aan kalmte, goeie verdediging en dissipline:
Ander rugbynuus: Die Engelse vleuel Immanuel Feyi-Wabosa kan dalk die hele Sesnasies misloop na hy verlede week sy agterknie-sening beseer het tydens oefening. Die 23-jarige het Saterdag se sege van 48-7 oor Wallis misgeloop en word ook nie oorweeg vir komende Saterdag se kragmeting met Skotland op Murrayfield nie. Afrigter Steve Borthwick het verskeie ander moontlikhede op vleuel, insluitend Henry Arundell, Tom Roebuck, Tommy Freemand en Elliot Daly. Engeland het drie van hulle laaste vier wedstryde in Edinburgh verloor, maar vertrek na die Skotse hoofstad met 12 agtereenvolgende toetsoorwinnings.
# Ons kyk volgende na krieketnuus: Die Proteas se kaptein, Aiden Markram, sê hulle is vol vertroue voor vandag se T20-Wêreldbekerwedstryd teen Kanada in Ahmedabad, Indië. Suid-Afrika was in 2024 die naaswenner en is een van die gunstelinge om te wen ná hulle sege in verlede jaar se Wêreld-toetskampioenskap. Die ander lande in Groep D is Nieu-Seeland, Afganistan en die Verenigde Arabiese Emirate. Markram sê hulle sal versigtig wees teen Kanada:
Die medegasheer, Sri Lanka, het intussen sy veldtog op ‘n hoë noot afgeskop toe hy Ierland in die Groep B-openingswedstryd in Colombo met 20 lopies verslaan het. Sri Lanka het eerste gekolf en 163 vir ses behaal. Die speler van die wedstryd, Kusal Mendis, het gespog met ʼn onoorwonne 56 van 43 balle. Ierland is daarna vir 143 uitgeboul met een bal oor. In Mumbai het die tweemalige kampioen, Engeland, ʼn naelskraapse oorwinning oor Nepal behaal en hulle met vier lopies geklop in Groep C se openingswedstryd.
# En laastens, tennis: Suid-Afrika het in Centurion ʼn swaarverdiende sege van 3-2 oor Montenegro behaal in die Davisbeker se Groep Twee-uitspeelstryd. Die spanne was op die tweede dag gelykop met een elk toe die besoekers die voortou neem en die dubbelswedstryd gewen het. Die tuisspan het sake gelykop gemaak toe Philip Henning met Petar Jovanović afgereken het. Alec Beckley het daarna ʼn oorwinning oor Aleksa Krivokapić behaal om die kragmeting te wen. Die sege beteken Suid-Afrika behou sy plek in die Wêreld Groep Twee vir die uitspeelwedstryde in September.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….