Nuus 07:00
BULLETIN 9 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die suksesse van die Departement van Kommunikasie en Digitale Tegnologieë word in die staatsrede verwag
# Oekraïne ontken enige betrokkenheid by die sluipmoordaanslag op ‘n hoëprofielpersoon in die Russiese weermag
# En tennis: Suid-Afrika klop Montenegro in ‘n Davisbeker-wedstryd
# Die DA verwag dat president Cyril Ramaphosa Donderdag in sy staatsrede die werk sal noem wat deur die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, gedoen is om die departement om te keer. Die party sê dit sluit pogings in om spektrumgebruik te verbeter en toegang tot bekostigbare digitale dienste uit te brei. Tsholofelo Bodlani van die DA sê hulle glo sterk dat die digitale tegnologiesektor belangrik is vir werkskepping en om Suid-Afrikaners uit armoede te verlos:
# Die Parlement se Portefeuljekomitee vir Kommunikasie en Digitale Tegnologieë eis ‘n dringende vergadering met die Minister van Finansies, Enoch Godongwana, om die uitstaande befondsing van 3,8-miljard-rand te verduidelik, wat nodig is om die Suid-Afrikaanse Poskantoor te red. Dit volg nadat sakepraktisyns aangedui het die gebrek aan befondsing stel die poskantoor se sakereddingsplan in gevaar. Die komiteevoorsitter, Khusela Diko, sê die minister van Finansies moet die situasie verduidelik tydens ‘n vergadering wat binnekort gereël sal word.
# Gauteng se LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, sê hulle is gewillig om saam met leerdervervoer-operateurs te werk wat werklik hul bedrywighede wil laat reguleer. Sy het gister leerdervervoer-bestuurders toegespreek by ‘n bewusmakingsvergadering in die Johannesburgse stadsaal. Die veiligheid van leerdervervoer het onder die loep gekom nadat 14 leerders in Vanderbijlpark dood is. Diale-Tlabela sê haar departement het spesiale tariewe by toetsstasies ingestel om nakomingkoste vir verskaffers van leerdervervoer te verlaag:
# ‘n Beampte van Korrektiewe Dienste verskyn vandag in die Makhanda-landdroshof in die Oos-Kaap. ‘n Woordvoerder van die Valke, Ndiphiwe Mhlakuvana, sê ‘n 47-jarige dienende amptenaar van Korrektiewe Dienste is in hegtenis geneem ná ‘n noukeurige intelligensie-gedrewe ondersoek na beweerde sameswering om moord te pleeg teen senior amptenare binne die Departement van Korrektiewe Dienste. Hy sê die teikens is geïdentifiseer as die hoof van die sentrum by die Waainek Korrektiewe Sentrum, en ‘n eenheidsbestuurder by dieselfde fasiliteit:
# Oekraïne se minister van Buitelandse Sake, Andrii Sybiha, sê Kiëf was nie betrokke by die skietvoorval op die Russiese intelligensie-offisier, Vladimir Alexeyev, nie. Die 64-jarige top- militêre beampte is Vrydag talle kere geskiet in ʼn woonstelblok in die noord-westelike buitewyke van Moskou. Rusland het ʼn Oekraïns-gebore Russiese burger, Lyubomir Korba, geïdentifiseer as die man wat agter die sluipmoordpoging sit. Hy is in Dubai aangekeer en aan owerhede in Moskou oorhandig. Sybiha sê die sluipmoordpoging op Alexeyev is die gevolg Russiese binnegevegte.
# Tennis: Suid-Afrika het in Centurion ʼn swaarverdiende 3-2-sege oor Montenegro behaal in die Davisbeker se Groep Twee-uitspeelstryd. Die spanne was gister op die tweede dag gelykop met een elk toe die besoekers die voortou neem en die dubbelswedstryd gewen het. Die tuisspan het sake gelykop gemaak toe Philip Henning met Petar Jovanović afgereken het. Alec Beckley het daarna ʼn oorwinning van 7-6, 6-3 teen Aleksa Krivokapić behaal om die gelykopstryd te verseël. Die sege beteken Suid-Afrika behou sy plek in die Wêreld Groep Twee vir die uitspeelwedstryde in September.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-93-sent teen die euro en 21-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-213-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-5-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….