Nuus 13:00
BULLETIN 8 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU wil weet hoe die regering die volgehoue hoë werkloosheid gaan aanpak
# Die Vryheidsfront Plus sê regeringsmislukkings laat die Suid-Afrikaanse motorbedryf in krisis en ondermyn beleggersvertroue
# En in krieket, Nieu-Seeland wen met vyf paaltjies teen Afghanistan by die T20-Wêreldbeker
# COSATU vra dat president Cyril Ramaphosa die regering se planne aankondig oor hoe die hoë werkloosheidsyfer van 42.4-persent en trae ekonomiese groei van 1-persent aangespreek gaan word tydens sy staatsrede volgende Donderdag. COSATU se woordvoerder Matthew Parks sê Ramaphosa moet ook planne aankondig om diepgewortelde vlakke van armoede, insluitend ongelykheid en endemiese misdaad, aan te pak:
# Die Vryheidsfront Plus sê die toekoms van Volkswagen Suid-Afrika en meer as vierduisend werksgeleenthede hang in die weegskaal. Die party sê dit is te wyte aan die regering se voortgesette gebrek aan beslissende stappe vir noodsaaklike beleidsaanpassings in die motorbedryf. Jaco Mulder van die VF Plus sê Volkswagen het onomwonde verklaar dat 2026 ‘n deurslaggewende jaar vir die maatskappy in Suid-Afrika sal wees:
# Die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid het bevestig dat ses kinders van Msintsi naby Berlyn en een van NU3 Mdantsane gister in die Cecilia Makiwane-hospitaal opgeneem is met vermoedelike voedselvergiftiging. Woordvoerder Camagwini Mavovana sê die kinders tussen 4 en 7 jaar oud, het simptome soos braking, diarree en duiseligheid getoon. Sy sê twee van die kinders is met hul aankoms by die hospitaal dood verklaar en vyf ander is steeds onder mediese sorg:
# Die George-munisipaliteit in die Wes-Kaap plaas die dorp as ‘n mededingende streeksalternatief vir Suid-Afrika se groot metropolitaanse sentrums. Die munisipaliteit se woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, sê hulle nooi nasionale en internasionale geleentheidsmaatskappye uit om die stad as ‘n voorkeurbestemming vir sakegeleenthede, vergaderings en konferensies, uitstallings, feeste, insluitend sportgeleenthede, en ander groot byeenkomste te oorweeg:
# Rusland se Federale Sekerheidsdiens sê die man wat daarvan verdink word dat hy die top Russiese militêre intelligensie-offisier Vladimir Alexeyev in Moskou doodgeskiet het, is in Dubai aangehou en aan Rusland oorhandig. Alexev is die adjunkhoof van Rusland se militêre intelligensie- afdeling en is Vrydag verskeie kere in ‘n woonstelblok in Moskou geskiet. Hy het na die skietery ‘n operasie ondergaan. Volgens die sekerheidsdiens is ‘n Russiese burger genaamd Lyubomir Korba in Dubai aangehou op verdenking van die skietery.
# En krieket: Nieu-Seeland het vanoggend in Chennai wraak geneem vir hul 2024-nederlaag met ‘n kliniese oorwinning van vyf paaltjies oor Afghanistan. Die Swart Pette het 183 gejaag. Mujeeb Ur Rahman het vroeg in die beurt dubbele paaltjies laat kantel maar Nieu-Seeland het goed herstel met 65 lopies deur Tim Seifert. Ten spyte van Gulbadin Naib se plofbare 63 van 35 balle vir Afghanistan, het Nieu-Seeland die teiken bereik met 13 balle oor. Hierdie deurslaggewende Groep D-oorwinning verseker ‘n sterk begin vir die Kiwi’s.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….