Nuus 11:00
BULLETIN 8 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus sê regeringsmislukkings laat Suid-Afrika se motorbedryf in ‘n krisis en ondermyn beleggersvertroue
# TLU SA sê Suid-Afrika moet reusehoeveelhede entstof invoer om bek-en-klouseer te bekamp
# En krieket, die verdedigende kampioen Indië open sy 2026 T20-Wêreldbeker met ‘n oorwinning oor die VSA
# Die Vryheidsfront Plus sê die toekoms van Volkswagen Suid-Afrika en meer as vierduisend werksgeleenthede hang in die weegskaal. Die party sê dit is te wyte aan die regering se voortgesette gebrek aan beslissende stappe vir noodsaaklike beleidsaanpassings in die motorbedryf. Jaco Mulder van die VF Plus sê Volkswagen het onomwonde verklaar dat 2026 ‘n deurslaggewende jaar vir die maatskappy in Suid-Afrika sal wees:
# Die landbou-organisasie TLU SA sê Suid-Afrika moet reusehoeveelhede entstof invoer om die bek-en-klouseer-uitbreking in die land te bekamp. Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het bevestig die Botswana-entstofinstituut sal teen die einde van hierdie maand 700-duisend dosisse entstof kan voorsien. Bennie Van Zyl van TRU SA sê dit is nie naastenby genoeg nie, aangesien Suid-Afrika 40-miljoen beeste het:
# Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in KwaZulu-Natal, Thulasizwe Buthelezi, het rampbestuurspanne op hoë gereedheidsgrondslag geplaas. Dit volg na dringende weervooruitsigte deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens vir vandag. Die departement se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê die provinsie word dubbeld bedreig, met ‘n vlak vyf-waarskuwing vir ernstige donderstorms in die westelike en suidelike streke en ‘n vlak twee-waarskuwing vir die res van die provinsie:
# COSATU in Gauteng het die aankondiging van die belegging van twee-miljard-rand in die nuwe Soufflet-moutfasiliteit in Midvaal, Sedibeng, verwelkom. COSATU-voorsitter Amos Monyela sê die belegging, waarmee ‘n moderne moutfabriek langs Heineken Beverages se Sedibeng-brouery gebou sal word, dui op vertroue in die ekonomie en bied werksgeleenthede vir die inwoners:
# Die Afrika Water- en Sanitasievereniging het ‘n resolusie goedgekeur waarvolgens Suid-Afrika die 2030 AfWASA-kongres sal aanbied. Woordvoerder Nndweleni Mphephu sê die besluit is gister geneem na ‘n vergadering van die instelling se uitvoerende raad in Yaoundé, Kameroen. Hy sê 2030 het diep nasionale, kontinentale en globale betekenis. Mphephu sê vir Suid-Afrika is dit die hersiening van die Nasionale Ontwikkelingsplan se Visie 2030.
# Krieket: Die verdedigende kampioen Indië moes hard werk vir ‘n oorwinning van 29 lopies oor die VSA in hul eerste wedstryd in die 2026 T20 Wêreldbeker-toernooi. Ondanks ‘n skamele 77 vir 6, het kaptein Suryakumar Yadav ‘n onoorwonne 84 van 49 balle geslaan om Indië se telling op 161 vir 9 te staan te bring. In reaksie hierop is die VSA tot 132 vir 8 beperk. Pakistan het Nederland vroeër met drie paaltjies geklop, terwyl die Wes-Indiese Eilande gemaklik met 35 lopies teen Skotland gewen het. Vanoggend speel Nieu-Seeland teen Afghanistan, Engeland pak Nepal, en Sri Lanka kom teen Ierland te staan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….