Nuus 07:00
BULLETIN 7 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party stel ‘n presidensiële taakspan saam voor die plaaslikeregeringsverkiesing
# Suid-Afrika hervat produksie van bek-en-klouseer-entstof na twee dekades
# En Britse parlementslede word gewaarsku om Westminster te ontruim
# Die MK-party het die stigting van ‘n presidensiële taakspan aangekondig om partyleier, Jacob Zuma by te staan terwyl die land voorberei vir die plaaslike verkiesing. Zuma het aan die media gesê die span van elf lede, wat sy seun Duduzani Zuma insluit, sal verkiesingsaktiwiteite koördineer. Hy sê die party brei steeds uit en die taakspan sal hom bystaan om te verseker dat die organisasie goed voorbereid is vir sy rol in die komende plaaslike verkiesing:
# Suid-Afrika het na 21 jaar weer die binnelandse produksie van bek-en-klouseer-entstowwe by die Landbounavorsingsraad op die Onderstepoort-kampus in Pretoria hervat. Die stap kom te midde van een van die ergste uitbrekings sedert 2019 en sal help om vee te beskerm terwyl dit die afhanklikheid van ingevoerde entstowwe verminder. Twee-miljoen diere is reeds ingeënt, en die nuwe vermoë sal die land se biosekuriteit versterk, die reaksie op veesiekte-uitbrekings verbeter en boere beskerm.
Die minister van Landbou, John Steenhuisen, sê intussen die hervatting van plaaslik-vervaardigde bek-en-klouseer-entstowwe is deel van ‘n langtermynplan om boere te beskerm, die siekte te stop en die land se bek-en-klouseervrye status te herwin. Die eerste besending van 12-duisend-900 dosisse is op Onderstepoort in Pretoria oorhandig. Steenhuisen sê ‘n landwye uitrol word vanaf Maart onder streng inentingsbeheer beplan, met 20-duisend dosisse per week:
# AfriForum sê volgehoue druk het Eskom gedwing om sy reëls vir sonkraggebruikers terug te trek. Die kragvoorsiener sal nie meer boetes oplê aan verbruikers wat kies om nie hul alternatiewe energiestelsels te registreer nie. Eskom het voorheen daarop aangedring dat alle sonkraginstallasies deur ‘n professionele ingenieur goedgekeur word en het gedreig met boetes vir nie-nakoming. Deidré Steffens van AfriForum sê die organisasie sal voortgaan om Eskom te monitor om te verseker dat behoorlike beleide in plek is:
# Die restorering van die verouderde Britse Parlement kan meer as 850-miljard-rand kos en tussen 38 en 61 jaar duur om te voltooi. Dit is een van twee voorstelle wat Parlementslede oorweeg met die werk aan die hoofsaaklik Victoriaanse gebou wat in fases voltooi sal word. Indien die tweede keuse oorweeg word, sal beide huise in Westminster vir tussen 19 en 24 jaar ontruim moet word om die herstelwerk, wat tot 330-miljard-rand kan kos, te voltooi. Voortgesette herstelwerk is tans teen ‘n koste van ongeveer 32-miljoen-rand per week onvolhoubaar.
# En rugby: Italië se kaptein, Michele Lamaro, en spanmaats Ignacio Brex en Paolo Garbisi speel almal vandag hulle 50ste toetswedstryde in die Sesnasies-kragmeting teen Skotland. Hulle is ingesluit in die beginspan vir die ontmoeting op Stadio Olimpico in Rome. Een van voormalige Wallaby-kaptein Michael Lynach se twee rugbyspelende seuns, Louis, sal op regtervleuel opdraf. Engeland en Wallis sal vanaand by Twickenham in die laaste wedstryd van die openingsnaweek swaarde kruis nadat die verdedigende kampioen, Frankryk, Ierland Donderdag in die eerste wedstryd kafgedraf het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….