Nuus 15:00
BULLETIN 6 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis ‘n ondersoek na beweerde wanadministrasie en magsmisbruik in die Parlement
# Die Parlement ontken bewerings dat die speaker getuies beskerm
# En rugby: Engeland is die gunsteling in die Sesnasies-kragmeting met Wallis
# Die DA het president Cyril Ramaphosa, Openbare Beskermer Kholeka Gcaleka en die Parlement versoek om bewerings van wanadministrasie en magsmisbruik te ondersoek. Die party het ‘n dossier van 393 bladsye ingedien oor die Sekretaris van die Parlement, Xolile George, se aanstelling, sy skielike salarisverhoging, en beweerde oorbesteding van meer as ses-miljoen-rand op 2023 se BRICS-parlementêre forum. DA-woordvoerder Rikus Badenhorst vra ‘n ondersoek na die voormalige speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, en die voormalige voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Amos Masondo, oor die moontlike manipulering van George se aanstelling.
Die Parlement ontken intussen nuusberigte dat die huidige speaker, Thoko Didiza, die forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan en die sakeman van Noordwes, Brian Mogotsi, beskerm teen verskyning voor die ad hoc-komitee wat inmenging in die regstelsel ondersoek. Die Parlement sê die bewerings is ‘n wanvoorstelling van Didiza se grondwetlike rol. Albei getuies het veiligheidsbekommernisse geopper en aansoek gedoen om aanlyn te getuig, soos die komiteereëls toelaat. Didiza het beslis die drempels vir die uitreiking van dagvaardings is nie nagekom nie en beklemtoon dagvaardings bly ‘n laaste uitweg.
# Die Maritieme Sakekamer sê Ramaphosa moet in sy staatsrede skeepvaart as nasionale ekonomiese voorkeur erken wat veel verder strek as hawens en Transnet. Hy gaan die rede Donderdag lewer. Die voorsitter van die kamer, Unathi Sonti, sê Ramaphosa moet ook die dringende nodige modernisering van Suid-Afrika se skeepswerwe en droogdokgeriewe erken om die geleenthede van herstelwerk aan skepe, maritieme ingenieurswese en verwante dienste te ontsluit:
# Green Connection sê Suid-Afrika se kuslyn onderhou duisende huishoudings wat regstreeks afhanklik is van mariene-hulpbronne vir voedsel en inkomste, maar baie kleinskaalse vissers ondervind voedselonsekerheid. Die organisasie het ‘n voorlegging gedoen aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se nasionale ondersoekverhoor oor Suid-Afrika se voedselstelsels. Khetha Buthelezi van Green Connection sê baie kleinskaalse vissers word steeds uitgesluit van markte en besluitnemingsprosesse oor die voedselstelsel wat hulle onderhou:
# Rugby: Engeland is die gunsteling in môre se eersteronde-Sesnasies-botsing met Wallis. Engeland is derde op die wêreldranglys en het elf agtereenvolgende oorwinnings agter die blad. Wallis sukkel daarenteen en het 21 van hul laaste 23 toetse verloor. Engeland het in die verlede wedstryde op Twickenham oorheers, en Wallis kon sedert 2012 nog nie ‘n Sesnasies-oorwinning daar behaal nie. Wallis het ‘n nuwe verdedigingsafrigter, Steve Tandy, en die span verwelkom ook vir Louis Rees-Zammit terug as heelagter. Die span is egter sonder sy kaptein, Jac Morgan, weens ‘n besering.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-772-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-882-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….