Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 6 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met heelwat rugbynuus: Ierland se hoofafrigter, Andy Farrell, het sy span se veggees bevraagteken in hulle Sesnasies-openingswedstryd teen die verdedigende kampioen, Frankryk, gisteraand in Parys. Ierland het 36-14 verloor. Farrell verwys na die gebrek aan intensiteit in die eerste helfte, verbroude duikslae en die verlore stryd op die grond en in die lug, en sê ‘n span kan nie toetse wen met so ‘n benadering nie:
Een van Skotland se voorste puntemakers van alle tye, die Suid-Afrikaans-gebore Duhan van der Merwe, is intussen weggelaat uit die groep vir môre se Sesnasies-openingswedstryd teen Italië in Rome. Die heelagter van die Britse en Ierse Leeus, Blair Kinghorn, is ook nie oorweeg nie, terwyl nog ‘n puntemasjien, Darcy Graham, op die bank gekies is. Afrigter Gregor Townsend het die agterste drietal vervang met Tom Jordan, Kyle Steyn en Jamie Dobie, wat sy eerste opdrafgeleentheid in die kompetisie kry. Die wedstryd begin tien-oor-vier op Stadio Olimpico.
En die Stormers se Rugby-instituut is die eerste keer in sewe jaar weer aan die gang, met ‘n groep van 12 spelers wat hierdie week by die Stellenbosse Akademie vir Sport begin. Die instituut, wat in 2018 laas in bedryf was, herleef as deel van die raamwerk vir Projek 2029 om talent te ontgin wat deur die Stormers uitgewys word. Die afrigter, Jacques Hanekom, sal die spelers gespesialiseerde afrigting en holistiese ondersteuning gee in hul eerste jaar na skool terwyl hulle die oorgang na senior rugby aanpak.
# Nou sokkernuus: Bafana Bafana gaan in Maart twee internasionale vriendskaplike wedstryde teen Panama speel in Suid-Afrika as deel van voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Panama bied mededingende, fisieke en takties-gedissiplineerde spel in pas met die vlak wat Bafana in die toernooi gaan ondervind. Hugo Broos se span is in Groep A geloot saam met Mexiko, Suid-Korea en die wenner van UEFA Groep D se uitspeelstryd – die Tsjeggiese Republiek, Ierland, Denemarke of Noord-Masedonië.
# En krieket: Pakistan se kaptein, Salman Agha, sê hulle sal hulle regering se mening inwin as hulle teen die mede-gasheer, Indië, moet speel in die uitklopfase van die T20-Wêreldbekertoernooi. Die regering het reeds toestemming geweier vir volgende Sondag se groepswedstryd teen hul aartsvyand, maar weiering in ‘n uitklopwedstryd sal uitskakeling beteken. Agha besef hulle moet hulle wedstryde teen Namibië, Nederland en Amerika wen en hoop vir goeie weer om die groepfase te oorleef. Pakistan speel al hul wedstryde in die mede-gasheerland, Sri Lanka.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….