Nuus 12:00
BULLETIN 6 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie ondersoek ‘n moontlike sindikaat wat getuies van die Madlanga-kommissie wil stilmaak
# Die OVK berei voor vir die verkiesing met ‘n aanlyn veldtog vir kieser-registrasie
# En sokker: Bafana Bafana gaan twee wedstryde teen Panama speel ter voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi
# Die polisie ondersoek die moontlikheid dat ‘n sindikaat getuies wil stilmaak wat voor die Madlanga-kommissie getuig. Dit volg na gister se sluipmoordpoging op Wiandré Pretorius in Boksburg. Die vermoorde Getuie D, Marius van der Merwe, het hom in sy getuienis voor die kommissie betrek. Gauteng se polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê hulle is bereid om getuiebeskerming te bied aan enige getuies wat voor die kommissie verskyn:
# Die Verkiesingskommissie gaan ʼn aanlyn kieser-registrasieveldtog begin om voor te berei vir die munisipale verkiesing. Die aanlyn portaal, ʼn selfbediening-kieserregistrasiestelsel, is in 2021 bekendgestel. Die kommissie se adjunkhoof van kommunikasie, David Mandaha, sê die portaal het net vanjaar meer as 26-duisend nuwe kiesers aangeteken:
# City Power in Johannesburg sê ‘n brand het vanoggend vroeg in die Bree-substasie ontstaan en verskeie gebiede is tans sonder krag. Dit is die tweede elektrisiteitsverwante brand in die metro binne ‘n week nadat ‘n transformator Maandag aan die brand geslaan het. Isaac Mangena van City Power sê veiligheidsmaatreëls is ingestel en spanne is aan die werk om die kragtoervoer te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araghchi, sê hulle begin vandag se gesprekke met Amerika met oop oë en ‘n bestendige herinnering aan die afgelope jaar se gebeure. Die vergadering in Oman volg op weke van toenemende spanning en vrese vir ‘n militêre botsing. Araghchi lei die Iranse afvaardiging, terwyl Amerika verteenwoordig word deur president Donald Trump se raadgewers, Steve Witkoff en Jared Kushner. Araghchi sê hulle is gereed vir billike en gelyke gesprekke , maar hulle missielprogram sal nooit onderhandel word nie.
# Sokker: Bafana Bafana gaan in Maart twee internasionale vriendskaplike wedstryde teen Panama speel in Suid-Afrika as deel van voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Panama bied mededingende, fisieke en takties-gedissiplineerde spel in pas met die vlak wat Bafana in die toernooi gaan ondervind. Hugo Broos se span is in Groep A geloot saam met Mexiko, Suid-Korea en die wenner van UEFA Groep D se uitspeelstryd – die Tsjeggiese Republiek, Ierland, Denemarke of Noord-Masedonië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 21-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-743-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-870-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….