Nuus 11:00
BULLETIN 6 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie ondersoek ‘n moontlike sindikaat wat getuies van die Madlanga-kommissie wil stilmaak
# Die Amerikaanse Weermag teiken nog ‘n vermeende dwelmvaartuig in die Stille Oseaan
# En sokker: Bafana Bafana gaan twee wedstryde teen Panama speel ter voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi
# Die polisie ondersoek die moontlikheid dat ‘n sindikaat getuies wil stilmaak wat voor die Madlanga-kommissie getuig. Dit volg na gister se sluipmoordpoging op Wiandré Pretorius in Boksburg. Die vermoorde Getuie D, Marius van der Merwe, het hom in sy getuienis voor die kommissie betrek. Gauteng se polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, sê hulle is bereid om getuiebeskerming te bied aan enige getuies wat voor die kommissie verskyn:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê Suid-Afrika moet voorkeur gee aan ekonomiese groei. Die instituut koppel hoë werkloosheid en volgehoue armoede aan jare van stilstand. Sy nuwe bloudruk vir groei beskryf praktiese hervormings om beleggings te bevorder, werk te skep en inkomste te verhoog. Woordvoerder Terence Corrigan sê hulle plan vermy vae of foefie-maatreëls en fokus eerder op strukturele veranderinge om vertroue in die ekonomie te herstel:
# Die Gautengse regering sê hy verwerp die DA se jongste poging tot wanvoorstelling van feite rondom Soufflet Malt se belegging in die Midvaal-munisipaliteit. Die Franse mout-vervaardiger het grond bekom vir ‘n aanleg van twee-miljard-rand langs Heineken Beverages se Sedibeng-brouery. Die provinsie se woordvoerder, Elijah Mhlanga, weerspreek die DA se stelling dat premier Panyaza Lesufi probeer voordeel trek uit die transaksie wat Midvaal se burgemeester, Peter Teixeira, beding het:
# Die Amerikaanse Weermag het nog ʼn vermeende dwelmboot in die oostelike Stille Oseaan aangeval waarin twee mense dood is. Dis sover bekend die tweede aanval vanjaar nadat twee vermeende dwelmhandelaars verlede maand in dieselfde omgewing dood is. Minstens 128 mense is sedert September verlede jaar dood in aanvalle op vermeende dwelmbote as deel van die Weermag se Operation Southern Spear. President Donald Trump se administrasie sê sy oorlog teen vermeende dwelm-terroriste uit Venezuela is doeltreffend.
# Sokker: Bafana Bafana gaan in Maart twee internasionale vriendskaplike wedstryde teen Panama speel in Suid-Afrika as deel van voorbereiding vir die Wêreldbekertoernooi. Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging sê Panama bied mededingende, fisieke en takties-gedissiplineerde spel in pas met die vlak wat Bafana in die toernooi gaan ondervind. Hugo Broos se span is in Groep A geloot saam met Mexiko, Suid-Korea en die wenner van UEFA Groep D se uitspeelstryd – die Tsjeggiese Republiek, Ierland, Denemarke of Noord-Masedonië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-945-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-844-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-21-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….