Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 06 Februarie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die Rio Tinto-Glencore-samesmeltingsooreenkoms is op die rotse. Die koerant skryf verhewe leierskapsambisies kelder wat die bedryf se grootste samesmelting sou wees.
# Mail & Guardian op Vrydae:
Skryf die gewildheid van die miljardêr Patrice Motsepe om by sy swaer president Cyril Ramaphosa oor te neem as ANC-president neem steeds toe.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig die DA-LP Dianne Kohler-Barnard het voor die parlementêre ad hoc-komitee ontken dat sy ooit inligting van die gesamentlike komitee oor Intelligensie waarop sy dien, uitgelek het.
Tweedens skryf die koerant drie verdagtes is dood en twee polisiebeamptes is gewond toe die polisie ‘n groep gewapende mans in Nyanga in Kaapstad gekonfronteer het.
En laastens word berig ‘n boer van Harrismith is aangerand toe hy verdagtes oor gesteelde skootrekenaars voorgekeer het. Hy het die verdagtes op sy plaas aangetref en gesien twee skootrekenaars in die kantoor het verdwyn.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf die EFF-leier, Julius Malema dring daarop aan dat die Phala Phala-saak van president Ramaphosa nou tot ‘n punt kom. Hy het die Konstitusionele Hof beskuldig dat hy voete sleep met ‘n uitspraak. Volgens Malema moet Ramaphosa in ‘n staat van beskuldiging geplaas word.
# Sowetan:
Berig die Madlanga-kommissie het gehoor brigadier Rachel Matjeng het 338-duisend-rand ontvang nadat “Cat” Matlala ‘n polisietender van 350-miljoen-rand ontvang het. Haar verduideliking dat dit ‘n geskenk van haar geliefde is, is deur die kommissie verwerp.
# En The Citizen:
Skryf Gauteng ly onder ‘n skuldlas van 167-miljard-rand met 165-miljoen-rand hiervan wat deur munisipale beamptes en raadslede verskuldig is. Die metro’s in die provinsie het tans geen planne om die geld in te vorder nie.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig die droogte in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap is nou in die hande van die nasioale regering nadat die gebiede tot nasionale rampgebiede verklaar is. Daar is ‘n dringende beroep gedoen op staatsinstellings, die privaat sektor, gemeenskappe en die publiek om water te bespaar.
En tweedens skryf die koerant Prasa moet 6,4-miljoen-rand opdok nadat ‘n man uit ‘n trein gestamp is.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die saak teen die ANC-streeksekretaris, Luyolo Nqakula en nog nege beskuldiges is teruggetrek, maar die stadsbestuurder, Noxolo Nqwanazi sal steeds teregstaan op beweerde tenderbedrog.
En tweedens skryf die koerant die Addo-olifantpark maak gereed vir die Herald-fietstoer.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die DA sê Grey’s-hospitaal in Pietermaritzburg stuur af op ‘n gesondheidsramp. Die temperatuur in operasieteaters styg tot 27 grade Celsius, daar is ‘n reuse-agterstand in operasies, daar heers kommer oor die veiligheid van pasiënte en ‘n gebrek aan die voldoening aan mediese protokolle.
En tweedens word berig oor ‘n voorval in Kaapstad waar 49 leerders in ‘n taxi gevind is.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die saamgestelde agterstand in sake in Namibiese howe het in November 2025 met 11,5-persent tot 63-duisend-679 sake toegeneem.
En tweedens skryf die koerant Namibië vra vir ‘n vaste verbintenis deur Suid-Afrika oor die gesamentlike ontwikkeling van die Noordoewer–Vioolsdrif-dam op die Laer-Oranjerivier, voordat die groenlig vir Fase 2 van die Lesotho-Hoogland-waterprojek gegee word.