Nuus 07:00
BULLETIN 6 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa gaan nie in hierdie stadium op bewerings teen Mchunu reageer nie
# Geordin Hill-Lewis oorweeg dit om as DA-leier te staan
# En gholf: Lorna McClymont van Skotland loop voor in die SuperSport-vroue-uitdaging
# President Cyril Ramaphosa het sy besluit om die minister van Polisie nie dadelik af te dank nie, verdedig en sê hy wag vir die Madlanga-kommissie se finale verslag. KwaZulu-Natal se polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, beskuldig Mchunu onder meer van politieke inmengery by belangrike ondersoeke, en die onwettige ontbinding van die taakspan oor politieke moorde in KwaZulu-Natal. Ramaphosa sê hy is bewus van die kritiek teen hom, maar sê hy sal optree sodra die kommissie oor drie maande die finale verslag indien:
# Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê hy sal later die maand bekendmaak of hy aan die DA se leierskapstryd gaan deelneem. Dit volg nadat John Steenhuisen Woensdag aangekondig het hy is nie beskikbaar vir herverkiesing by die party se verkiesingskongres in April nie. Hill-Lewis word beskou as een van die voorlopers vir die amp. Hy sê indien hy hom beskikbaar stel, wil hy deel wees van ‘n sterk en beginselvaste proses wat fokus op mededingende idees vir die land en party se toekoms.
# Statistiek Suid-Afrika sê elektrisiteitopwekking het in Desember op ‘n jaargrondslag met bykans agt-persent gedaal, terwyl elektrisiteitsverspreiding net meer as sewe-persent minder is. Die algehele kragproduksie was verlede jaar twee-persent laer in vergelyking met 2024, wat die winste van die vorige jaar omgekeer het. Tsholofelo Ditinti van Statistiek SA sê elektrisiteitsverbruik vir die jaar het ook met meer as vier-persent gedaal:
# Limpopo se premier Phophi Ramathuba sê volgens voorlopige evaluering gaan die provinsie byna tien-miljard-rand nodig hê vir omvattende herstelpogings na die onlangse oorstromings. Sedert Desember 2025 is 27 sterftes in die provinsie aangemeld, drie-duisend-194 huise is geraak en 439 paaie is verwoes. Die provinsiale regering het 800-miljoen-rand vir herstelwerk toegeken en wag op ʼn antwoord van die Nasionale Rampbestuursentrum. Ramathuba sê hulle fokus op voortgesette skadebepalings, noodleniging en die dringende herstel van noodsaaklike dienste.
# Die owerhede in Australië sê die bomvoorval tydens ‘n protes-saamtrek teen die land se nasionale dag op 26 Januarie, word as ‘n terreurvoorval hanteer. Die polisie het ‘n 31-jarige man in hegtenis geneem wat ‘n tuisgemaakte bom na ‘n skare van duisende mense in Perth gegooi het. Australië-dag word gevier as ‘n openbare vakansiedag en word gekenmerk deur pieknieks, braaipartytjies en seremonies vir nuwe burgers. Dit word egter ook gekritiseer, veral deur inheemse gemeenskappe, met “Invalsdag”-protesoptogte dwarsoor die land.
# Gholf: Lorna McClymont van Skotland, wat haar eerste Sonskyn Vroue-toertitel wil wen, begin vandag se finale ronde van die SuperSport Vroue-uitdaging in Gqeberha met ʼn voorsprong van twee houe. Sy spog met vier-onder-baansyfer 68 en loop voor met twee onder baansyfer. Twee houe agter haar is Lee-Anne Pace van Suid-Afrika en die Duitser, Celina Sattelkau. ʼn Groep van sewe spelers begin die laaste ronde met een oor baansyfer. Dit sluit Suid-Afrika se verdedigende kampioen, Nadia van der Westhuizen, in.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-29-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-62-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-755-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….