Nuus 06:00
BULLETIN 6 Februarie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê daar is ‘n behoefte om die sekuriteit van getuies op te knap
# Die DA verwelkom die Openbare Beskermer se ondersoek na die elektrisiteitsprysflater
# En rugby: Die Stormers Rugby-instituut is weer op dreef
# President Cyril Ramaphosa sê getuies in hoëprofielsake moet beter beveilig word en hul identiteite moet geheim gehou word. Sy kommentaar volg op die poging tot moord op Wiandre Pretorius gister buite sy woning in Boksburg, waar die polisie ten minste 16 koeëls op die toneel gevind het. Pretorius is by die Madlanga-kommissie betrek in die getuienis van die vermoorde Marius van der Merwe. Ramaphosa sê hy is ontsteld oor hierdie poging tot moord:
# AgriSA het sy oproep vir ‘n langer verlenging van die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika herhaal om sekerheid en bestendige handelsbetrekkinge met Amerika te verseker. Die organisasie het die Amerikaanse Senaat se goedkeuring van ‘n eenjaar-verlenging verwelkom, maar sê dit is nie genoeg vir langtermynbeplanning nie. AgriSA het bygevoeg dat AGOA nie vir politieke gewin gebruik moet word nie, en waarsku dat voorspelbare toegang tot Amerikaanse markte noodsaaklik is vir sektore soos sitrus, druiwe, wyn en neute, wat duisende werksgeleenthede, veral in landelike gebiede, ondersteun.
# Die DA vra dringende regstellende optrede nadat die energiereguleerder, Nersa, berekeningsfoute in die elektrisiteitsprys erken het. Die party verwelkom die Openbare Beskermer se bevestiging dat die saak ondersoek word. Die foute, aanvanklik ter waarde van 54-miljard-rand, het nou gestyg tot 76-miljard-rand, en kan verbruikers se kragtariewe verhoog. Die DA-lid, Kevin Mileham, sê die foute openbaar sistemiese mislukkings by die energiereguleerder en die party eis aanspreeklikheid:
# Die leier van ActionSA, Herman Mashaba het belowe om die geveg vir die geregtigheid van die families van die Februarie 2016 Lilymyn-tragedie in Barberton, Mpumalanga voort te sit. Die mynwerkers Pretty Nkambule, Yvonne Mnisi en Solomon Nyirenda is dood toe ‘n kroonpilaar ondergronds ineengestort het en dele van die myn ingeval het. Hul oorskot is nog nie gevind nie. Dit was gister die tiende herdenking van die voorval. Mashaba sê die regering het deurgaans minagting getoon vir die pyn wat hierdie families moes verduur, terwyl hul enigste eis geregtigheid was:
# Oekraïne en Rusland het ‘n tweede dag van die Amerikaans-bemiddelde gesprekke in Abu Dhabi afgesluit in ‘n poging om die grootste konflik in Europa sedert die Tweede Wêreldoorlog te beëindig. Amptenare sê ‘n ooreenkoms is bereik oor die uitruiling van 314 krygsgevangenes. Die Amerikaanse president Donald Trump se spesiale gesant, Steve Witkoff, het die vredesgesprekke as “omvattend en produktief” beskryf, met Rusland en Oekraïne wat dit positief noem. Rusland se gesant, Kirill Dmitriev, het Donderdag ook gesê vordering is gemaak. Duisende soldate aan beide kante is tydens die oorlog van byna vier jaar, dood, gewond of vermis.
# Rugby: Die Rugby-instituut van die Stormers is vir die eerste keer in sewe jaar weer aan die gang, met ‘n groep van 12 spelers wat hierdie week by die Stellenbosch Akademie vir Sport begin. Die instituut, wat laas in 2018 operasioneel was, herleef as deel van die raamwerk vir Projek 2029, om die meeste te maak van die talent wat deur die Stormers Rugby-pad na vore kom. Die afrigter, Jacques Hanekom, sal die spelers gespesialiseerde afrigting en holistiese ondersteuning gee in hul eerste jaar na skool terwyl hulle die oorgang na senior rugby aanpak.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-841-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-761-dollar-55-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-6-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….