Nuus 17:00
BULLETIN 5 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uittredende DA-leier waarsku teen onbestendige koalisies in die Wes-Kaap voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Katiso ‘KT’ Molefe se voorverhoor is uitgestel vir openbaarmaking aan die verdediging
# En, Mining Review Africa vra vir veiliger praktyke op die tien-jaar herdenking van die Lilymyn-tragedie
# Die uittredende DA-leier John Steenhuisen waarsku teen onbestendige koalisieregerings in die Wes-Kaap voor die plaaslike regeringsverkiesing. Hy het tydens die aankondiging van die party se burgemeesterskandidate beklemtoon sterk meerderhede is noodsaaklik om dienslewering, skoon regering en openbare veiligheid te verseker. Steenhuisen vra kiesers om DA-geleide munisipaliteite te ondersteun en sê morsige koalisies slaag dikwels nie daarin om beleide doeltreffend in te stel nie, wat swak infrastruktuur en ontwrigte basiese dienste veroorsaak:
# Die voorverhoor van die beweerde misdaadfiguur Katiso ‘KT’ Molefe en drie medebeskuldigdes is tot 12 Maart uitgestel in die Hooggeregshof in Johannesburg. Die staat sal môre volledige openbaarmakings aan die verdediging verskaf. Die beskuldigdes staan tereg op 35 aanklagte van onder meer moord en sameswering na die dood van die musikante DJ Sumbody en DJ Vetties, die ingenieur Armand Swart en die sakeman Don Tindleni. Molefe het in ‘n koeëlvaste voertuig met gewapende lyfwagte opgedaag. Die hof het die beskuldigdes gewaarsku omdat hulle agter hulle hande gepraat het.
# Mining Review Africa bepleit veiliger praktyke, verantwoordbaarheid en waardigheid in die bedryf. Dit kom terwyl die land tien jaar herdenk sedert die Lilymyn-ineenstorting in Mbombela, Mpumalanga. Die tragedie op 5 Februarie 2016, het die lewens van Solomon Nyirenda, Yvonne Mnisi en Pretty Winnie Nkambule geëis. Gesinne treur steeds te midde van vertragings met die heropening van die myn en die herwinning van die oorledenes se liggame. Die Junior Mynraad het intussen die bedryf en owerhede gevra om geregtigheid, veiligheid en afsluiting voorop te stel en te verseker so ‘n tragedie word nooit herhaal nie.
# Die Kremlin sê hy wil nie tyd mors om vrae te beantwoord oor onbewese bewerings dat die oorlede seksoortreder Jeffrey Epstein moontlik ‘n soort Russiese intelligensiebate was nie. Die bewerings is in die Westerse media en deur die Poolse eerste minister, Donald Tusk, gemaak. Russiese amptenare sê bewerings van ‘n skakel tussen Epstein en Russiese intelligensie word in die openbare sfeer geplaas as afleiding van ‘n skandaal wat hulle sê die skynheiligheid van magtige mans reg oor Amerika en Europa blootlê.
# Rugby: Die Walliese flank Josh Macleod glo hulle kan Engeland verras in Saterdag se Sesnasies-openingswedstryd op Twickenham in Londen. Die gashere, wat hul laaste 11 wedstryde gewen het, is die oorweldigende gunstelinge teen die sukkelende Wallis, wat 21 van hul laaste 23 toetse verloor het. Die besoekers se interne probleme sluit ‘n rusie in oor hul unie se planne om die aantal beroepsklubs van vier na drie te verminder. Macleod sê egter die fisieke stryd kan sy span uit situasies haal waar hulle op die agtervoet is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-16-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-260-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-849-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 67-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….