Nuus 16:00
BULLETIN 5 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse polisie bevestig 16 koeëls is gebruik in die sluipmoord-poging op ‘n SAPD-verklikker
# Die Maritieme Sakekamer sê Suid-Afrika speel ‘n belangrike rol in wêreldwye maritiemebestuur
# En gholf: Scheffler is opgewonde oor Koepka en Reed se terugkeer na die PGA-toer
# Die Gautengse polisiekommissaris, Tommy Mthombeni, het bevestig 16 rondes ammunisie is vanoggend afgevuur op die polisie-verklikker Wiandré Pretorius voor sy huis in Boksburg. Getuie D voor die Madlanga-kommissie, die vermoorde Marius van der Merwe, het Pretorius betrek by ‘n saak in 2022 toe ‘n roofverdagte versmoor en van sy liggaam ontslae geraak is. Mthombeni bevestig Pretorius is ongedeerd:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n tweede skikkingsooreenkoms bereik in sy ondersoek na misbruik van Nasionale Loterykommissie-befondsing wat met die afskeidstoer vir 2016 se Olimpiese Spele in Rio verband hou. Die Spesiale Tribunaal het Imbizo Events beveel om 70-duisend-rand in twee gelyke paaiemente terug te betaal. Die eenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê dis die tweede suksesvolle herwinning. Hulle het vroeër 50-duisend-rand van die mediapersoonlikheid Minenhle Dlamini verhaal van fondse wat sy onregmatig van die Mshandukani-stigting ontvang het.
# Die Maritieme Sakekamer sê Suid-Afrika se herverkiesing tot die Internasionale Maritieme Organisasieraad vir die 2026–2027-termyn bevestig die land se leierskaprol in wêreldwye maritiemebestuur. Die IMO is die Verenigde Nasies se afdeling verantwoordelik vir bestuur van wêreldwye verskeping en die bevordering van maritieme veiligheid, sekerheid en omgewingsbeskerming. Die IMO-raad bestaan uit 40 lidlande wat vir twee jaar verkies word. Die kamer se uitvoerende voorsitter, Unathi Sonti, sê die land se herverkiesing is ‘n belangrike oorwinning:
# Die minister van Handel en Nywerheid, Parks Tau, besoek China tans om die China-Afrika Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms te onderteken. Dit sal Suid-Afrikaanse uitvoere belastingvrye toegang tot die Chinese mark bied. Suid-Afrika poog om uitvoere te versterk te midde van ‘n tariefgeskil met Amerika, sy tweede grootste bilaterale handelsvennoot ná China. Tau se besoek vind plaas terwyl Suid-Afrika mark-uiteenlopendheid en groei in uitvoere nastreef. Tau sal ook Chinese ondernemings besoek wat belangstel om in Suid-Afrika te belê.
# Gholf: Wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, glo LIV Gholfspelers se terugkeer na die PGA-toer is ‘n goeie begin om die wêreld se beste talent saam te laat meeding. Die vyfmalige Major-wenner, Brooks Koepka, het verlede week op Torrey Pines na die PGA teruggekeer terwyl 2018 se Meesterskampioen, Patrick Reed, volgende jaar terugkeer. Scheffler sê om albei spelers terug te hê is wonderlik:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 69-duisend-205-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-827-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….