Nuus 15:00
BULLETIN 5 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie bevestig ‘n polisie-verklikker het ‘n sluipmoordaanval oorleef
# ‘n Ontleder glo die DA moet ‘n swart leier aanstel ná Steenhuisen se uittrede
# En rugby: Engeland se afrigter verwag ‘n moeilike Sesnasies-aanvangswedstryd teen Wallis
# Die Madlanga-kommissie het bevestig die polisie-verklikker Wiandré Pretorius het vanoggend ‘n sluipmoord-poging voor sy huis in Boksburg, Gauteng, oorleef. Die vermoorde Marius van der Merwe, bekend as Getuie D, het hom betrek by ‘n saak in 2022 toe ‘n roofverdagte versmoor en daarna van sy liggaam ontslae geraak is. Van der Merwe is in Desember vermoor. Woordvoerder Jeremy Michaels sê die kommissie het getuiebeskerming versterk.
Intussen het die Polisiediens se afdelingshoof vir Gehaltebestuur, Rachel Matjeng, voor die kommissie getuig sy was sedert 2017 in ‘n onbestendige verhouding met die omstrede sakeman Vusimusi ‘Cat’ Matlala. Sy het geskenke en geld ontvang, maar beklemtoon dit was persoonlik en nie verbind met die polisie se Medicare24-tenders nie. Die verhouding het geëindig ná Matlala se inhegtenisneming in 2024. Matjeng glo nie hy was by misdaad betrokke sedert hul ontmoeting nie:
# Die politieke ontleder Harald Pakendorf sê die DA moet ‘n swart leier aanstel wanneer John Steenhuisen in April vertrek. Hy bly aan as minister van Landbou. Pakendorf dink die DA moet sy aantrekkingskrag buite die middelklas verbreed, en merk op byna 80-persent van kiesers is swart. Hy het aan Newzroom Afrika gesê ‘n geloofwaardige swart leier kan help om die party se nasionale aansien te versterk voor toekomstige verkiesings:
# Rugby: Engeland se afrigter, Steve Borthwick, verwag Saterdag ‘n spannende kragmeting met Wallis in die aanvangswedstryd van die Sesnasies op Twickenham in Londen. Henry Arundell, George Ford en Alex Coles is almal aangewys om vir die gasheerland te begin, met die gereelde kaptein Maro Itoje op die bank. Die haker Jamie George sal die span aanvoer. Borthwick sê die fokus is om hul wedstrydplan uit te voer en deurgaans dissipline te handhaaf:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 70-duisend-568-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-883-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-42-sent per vat.
# En ten slotte: Suid-Afrika se digitale bank, TymeBank, het sy naam amptelik na GoTyme Bank verander, ‘n aanduiding van die volgende hoofstuk in sy vooruitgang as deel van die wêreldwye Tyme-groep. Die groep sê die GoTyme Bank-handelsmerk is meer in ooreenstemming met die bank se wêreldwye belyning. Dit staan bekend as GoTyme in Asiatiese markte, waar dit vinnig uitgebrei het. Die bank is amptelik in 2019 bekendgestel en word gesteun deur African Rainbow Capital van die miljardêr Patrice Motsepe. Dit sal ook ‘n nuwe platform vir kliënte bekendstel deur die GoTyme-toepassing.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….