Nuus 07:00
BULLETIN 5 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Daniel Silke sê Steenhuisen se uittrede weerspieël die DA se balanseertoertjie in die RNE
# Suid-Afrikaners bestee nou 71-persent van hul salarisse aan skuld
# En krieket: Dis Indië teen Engeland in die o.19 Wêreldbeker-eindstryd
# Die politieke ontleder, Daniel Silke, sê John Steenhuisen se onttrekking aan die DA-leierskap weerspieël die party se moeilike balanseertoertjie om in die regering van nasionale eenheid te dien. Steenhuisen het gister aangekondig hy gaan nie by die party se federale kongres in April probeer om ‘n derde termyn as DA-leier te dien nie. Silke sê die DA moet sy opposisie in die RNE handhaaf, maar word terselfdertyd bedreig deur die versplintering van kiesers weens interne spanning:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ʼn tweede skikkingsooreenkoms bereik in sy ondersoek na misbruik van Nasionale Loterykommissie-befondsing wat met die 2016 Olimpiese Spele in Rio se “Roadshow Send-Off”-veldtog verband hou. Die Spesiale Tribunaal het Imbizo Events beveel om 70-duisend-rand in twee gelyke paaiemente terug te betaal. Die Ondersoekeenheid se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê dis die tweede suksesvolle herwinning. Hulle het vroeër 50-duisend-rand van die mediapersoonlikheid, Minenhle Dlamini, verhaal van fondse wat sy onregmatig van die Mshandukani-stigting ontvang het:
# Die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika sê die verhoging van die minimumloon word ingestel te midde van hoë werkloosheid, armoede en stadige ekonomiese groei. Die vereniging waarsku die nuwe nasionale minimumloon van 30-rand-23 sent per uur, kan werkgewers wat dit nie kan bekostig nie dwing om poste te verminder of nakoming te vermy. Die woordvoerder, Gerhard Papenfus kritiseer die regering omdat hy werkers van die Uitgebreide Openbare Werke-program byna die helfte van die minimumloon betaal maar die verhoging op die privaat sektor afdwing.
# Volgens DebtBusters se jongste verslag sukkel baie Suid-Afrikaners met hoë skuldvlakke en bestee hulle gemiddeld 71-persent van hul netto inkomste aan skuld. Dit is die hoogste vlak sedert 2017. Persoonlike lenings, kitslenings en kredietkaarte bly noodsaaklik, veral vir huishoudings wat meer as 35-duisend-rand per maand verdien, wat nou ‘n rekord skuld-tot-inkomste-verhouding van 210-persent ervaar. Ouer verbruikers voel ook die druk, met 31-persent van nuwe skuldberadingsaansoekers deur mense wat ouer as 40-jaar is.
# President Donald Trump van Amerika se grens-tsaar, Tom Homan, sê die Departement van Binnelandse Veiligheid gaan 700 immigrasie-agente uit Minnesota onttrek en sowat tweeduisend beamptes daar laat. Die agente was deel van “Operation Metro Surge” wat toeslaan op onwettige immigrante in Minneapolis. Dit het gelei tot die dood van twee Amerikaanse burgers en het landwye betogings ontlok. Homan sê die totale onttrekking sal afhang van plaaslike en staats-wetstoepassers se samewerking:
# Krieket: Die vyfmalige kampioene van Indië het Afghanistan in Harare met sewe paaltjies afgeransel en hul plek in die mans se Onder 19-wêreldbeker bespreek. Faisal Shinozada en Uzairullah Niazai het beïndruk met die kolf en onderskeidelik 110 en ʼn onoorwonne 101 aangeteken om Afghanistan na ʼn indrukwekkende 310 vir vier te lei. Daarna het Aaron George 115 gemoker terwyl Indië ʼn Onder 19-wêreldbeker-rekord van 311 behaal het met die verlies van slegs drie paaltjies en agt boulbeurte oor. Indië en Engeland takel mekaar môre in die eindstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-6-sent teen die dollar, 18-rand-96-sent teen die euro en 21-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-963-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-961-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….