Nuus 17:00
BULLETIN 4 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voormalige Direkteur van Openbare Vervolging in KZN bars in trane uit tydens die Nkabinde-ondersoek
# Cosatu verwelkom die verhoging in die nasionale minimum loon
# En, Julius Malema sê die speaker bied politieke beskerming aan Brown Mogotsi en Paul O’Sullivan
# Die voormalige Direkteur van Openbare Vervolging in KwaZulu-Natal, Moipone Noko, het in trane uitgebars toe sy voor die Nkabinde-ondersoek in Pretoria getuig het. Noko sê sy is in 2021 gedwing om haar bedanking in te dien en die Nasionale Vervolgingsgesag te verlaat. Die verrigtinge is kortliks verdaag en hervat môre. Noko verwerp bewerings dat sy geweier het om saam te werk, en sal na verwagting belangrike insigte in vorige aanklaersbesluite verskaf, insluitend die terugtrekking van aanklagte teen individue met politiese verbindings:
# Die vakverbond Cosatu verwelkom die verhoging in die nasionale minimum loon vir vanjaar. Dit styg met vyf-persent, van 28-rand-79-sent tot 30-rand-23-sent vir elke gewone uur gewerk. Dit word op 1 Maart van krag en bevoordeel alle werkers, insluitend plaas- en huiswerkers. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle is tevrede dat hul eis vir ‘n aanpassing bo inflasie goedgekeur is:
# EFF-leier Julius Malema sê die speaker van die Parlement, Thoko Didiza, bied politieke beskerming aan die sakeman van Noordwes, Brown Mogotsi en privaat speurder Paul O’Sullivan. Hy het op ‘n nuuskonferensie die geloofwaardigheid van beweerde dreigemente bevraagteken wat hul verskyning voor die Parlement verhoed, en sê albei was voorheen sonder voorval by staatsprosesse betrokke. Malema sê Didiza se weiering om dagvaardings uit te reik beskerm hulle teen aanspreeklikheid:
# Die Internasionale Atoomenergie-agentskap het onthul dat Afrika-lande voortgaan met kernenergieplanne, met ‘n teiken om teen 2035 15-gigawatt te lewer, teen ‘n geraamde koste van 1,6-duisend-miljard-rand. Die Agentskap en verskeie Afrika-state het tydens ‘n webinaar op die Kernsake-platform onthul meer as 15 lande is tans besig met programme, terwyl Wes-Afrika beplan om teen 2035 agt kernkragsentrales te hê. Ghana en Nigerië fokus op klein modulêre sentrales, wat na verwagting vaardighede, werksgeleenthede en nywerheidsgroei sal bevorder.
# Krieket: Hoofafrigter Shukri Conrad is volgens berigte besig om die verowering van Suid-Afrika se eerste groot witbal-trofee te beplan nadat hy die Proteas verlede jaar gehelp het om die Wêreldtoetskampioenskap te wen. Die T20-Wêreldbekertoernooi begin Saterdag in Indië en Sri Lanka. Conrad besef die span het bestendigheid nodig nadat 31 spelers betrek is in die 21 T20s sedert hy oorgeneem het. Hulle kon slegs agt wen. Conrad glo die kernwaardes en spangees wat Suid-Afrika die toets-staf help wen het, sal na die T20-groep oorvloei.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-93-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-988-dollar. Die prys van goud is vyf -duisend-32-dollar-22-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 66-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….