Nuus 14:00
BULLETIN 4 Februarie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hooggeregshof verwerp Jacob Zuma en Thales se appèlaansoek
# John Steenhuisen loof sy suksesse as DA-leier
# En Olimpiese Spele: Die hoof van die IOK vra meer fokus op sport en nie politiek nie
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal, het oudpresident Jacob Zuma en sy medebeskuldigde, Thales, se aansoek verwerp om die uitspraak teen hulle kwytskelding om te keer. Regter Nkosinathi Chili het die oorspronklike beslissing gehandhaaf en bevestig die regsproses sal voortduur. Zuma en die Franse lugvaart-onderneming wou die vorige uitspraak laat tersyde stel. Chili sê hul betoë was nie voldoende nie:
# Die uittredende leier van die DA, John Steenhuisen, sê die party se toetrede tot die nasionale regering was ‘n geskiedkundige deurbraak na dekades in opposisie. Hy het aangekondig hy tree in April uit. Steenhuisen sê die DA het die regering gehelp om groei te verbeter en Suid-Afrika van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys te verwyder. Hy loof koalisiepolitiek vir hernude ekonomiese stukrag, maar waarsku interne verdeeldheid kan vooruitgang bedreig:
# S&P Global Ratings waarsku Afrika-regerings kan vanjaar ‘n skuldlas van 1,4-duisend-miljard-rand ondervind, aangevuur deur toenemende terugbetalings in harde kontant. Eksterne skuldverpligtinge is nou meer as drie keer 2012 se vlakke, met Egipte wat vir byna ‘n derde daarvan verantwoordelik is, gevolg deur Angola, Suid-Afrika en Nigerië. Terwyl groei van 4,5-persent voorspel word, bly skuld hoog teen ongeveer 61-persent van die bruto binnelandse produk, wat lande soos Suid-Afrika en Kenia aanspoor om aanspreeklikheidsbestuursmaatreëls in te stel.
# Olimpiese Spele: Die president van die Internasionale Olimpiese Komitee, Kirsty Coventry, sê alle atlete moet toegelaat word om mee te ding, ongeag hul regering se gedrag. FIFA se president, Gianni Infantino, wil hê Rusland moet weer by internasionale sokker ingesluit word. FIFA en UEFA het hom verban na sy inval in Oekraïne. Coventry sê die IOK verstaan politiek en besef dit word nie in ‘n vakuum bedryf nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-87-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-20-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-54-dollar-72-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Die Stad Kaapstad sê tienerswangerskappe bly ‘n groeiende bron van kommer, met een-duisend-230 meisies onder-18 wat verlede jaar voorgeboortelsorg gebruik het. Dit is ‘n toename van 1,2-persent teenoor die vorige jaar. Swanger vroue word aangemoedig om gesonde leefstylkeuses te maak, geestesgesondheidsondersteuning te soek indien nodig, en vroeë voorgeboortesorg te bespreek om hul gesondheid en hul babas se welstand te beskerm. Die burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste en Gesondheid, Francine Higham, het tieners aangespoor om jeugvriendelike dienste en voorbehoedmiddels te gebruik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….