Nuus 11:00
BULLETIN 4 Februarie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# John Steenhuisen bedank as leier van die DA
# Minister Meth verhoog die nasionale minimum loon tot bo 30-rand per uur
# En rugby: Die Blitsbok Ryan Oosthuizen sê hulle sal beter vaar in Perth
# John Steenhuisen het bedank as leier van die DA, maar bly aan as minister van Vervoer. Meer hieroor in ons volgende bulletin.
# Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth, het die minimum loon vir 2026 van 1 Maart af verhoog. Dis met vyf-persent verhoog, van 28-rand-79-sent tot 30-rand-23-sent vir elke gewone uur gewerk, in ooreenstemming met die Nasionale Raad vir Minimum Lone se aanbeveling. Meth sê dit sluit werkers van die Uitgebreide Openbarewerke-program uit, aangesien hulle onder ‘n spesiale bedeling aangestel word.
# Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, sê Suid-Afrika versterk sy toerisme-groeistrategie deur beleggingsbevordering, verbeterde lugverbindings en visumhervorming, namate die land sy betrokkenheid in belangrike Asiatiese markte verdiep. Sy het die Singapoerse deel van die departement se Suidoos-Asiatiese uitreikprogram afgesluit. Suid-Afrika het verlede jaar ‘n rekord-toeristeseisoen behaal, met 10,48-miljoen internasionale aankomste tussen Januarie en Desember. Hiervan was meer as nege-duisend-827 uit Singapoer. De Lille sê haar besoek het die handels- en toerismesamewerking met Singapoer versterk.
# Die ANC se Kaapstadse koukus sê die moord op sy raadslid, Lazola Gungxe, wek weer ernstige kommer oor die veiligheid en sekerheid van openbare verteenwoordigers. Hy is gistermiddag doodgeskiet nadat hy ʼn gemeenskapsvergadering in die Ou Kruispad-gemeenskapsaal in Nyanga bygewoon het. Gungxe was ook lid van die uitvoerende komitee van die ANC se Dullah Omar-streek. ʼn ANC-woordvoerder, Judy-Ann Stevens, sê hulle hoop die moordenaars word vinnig aangekeer:
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika het die regeringsbefondsings-wetsontwerp bekragtig en ʼn gedeeltelike regeringsluiting van drie dae beëindig. Die ooreenkoms wat Vrydag deur die Senaat goedgekeur is, is gister in die Huis van Verteenwoordigers met 217 stemme teenoor 214 aanvaar. Dit bevestig die Kongres se werk aan elf jaarlikse toedelingswetsontwerpe wat staatsagentskappe en -programme tot 30 September befonds. Trump sê die wetsontwerp is ʼn groot oorwinning vir Amerikaners:
# Rugby: Die Springbok-sewespeler Ryan Oosthuizen sê hulle is vol vertroue dat hulle die naweek beter sal vaar in die wêreldreekstoernooi in Perth, Australië. Die Blitsbokke het verlede naweek in Singapoer vierde geëindig. Suid-Afrika is in Groep A saam met Spanje, Fidji en Argentinië. Oosthuizen, wat in sy 60ste toernooi sal speel, sê hy is tevrede met die span se besprekings wat hoofsaaklik op verantwoordelikhede en standaarde gefokus het:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-90-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 21-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-249-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-en-65-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 67-dollar-49-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….