Nuus 16:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering verwag Vrydag die uitspraak in die saak teen Israel
# Die minister van Vervoer betreur dit dat die meerderheid padsterftes jongmense was
# En, sokker: Ghana se hoofafrigter is afgedank na die span se vroeë vertrek uit die Afrikabeker-toernooi
# Die Suid-Afrikaanse regering verwag Vrydag die Internasionale Geregshof se uitspraak in sy saak teen Israel. Suid-Afrika se regspan het vroeër die maand aangevoer Israel se behandeling van Palestyne in Gaza kom neer op volksmoord, terwyl Israel ontken het sy oorlog teen Hamas oortree die Verenigde Nasies se Volksmoordkonvensie van 1948. News24 berig ‘n Suid-Afrikaanse afvaardiging het in Den Haag in Nederland aangekom vir die verwagte uitspraak oor voorlopige maatreëls, insluitend om Israel te beveel om sy militêre operasies in Gaza te staak.
# Die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, let op ‘n kommerwekkende aantal mense tussen 25 en 44 wat in motorongelukke gesterf het. Sy het die feestyd-syfers vir 2023/24 op ‘n nuuskonferensie in Gauteng bekend gemaak. Sterfgevalle het met 25 afgeneem van een-duisend-452 die vorige jaar tot een-duisend-427. Chikunga skryf die afname toe aan streng wetstoepassing sowel as opvoedings- en bewusmakingsveldtogte:
# Die DA vra president Cyril Ramaphosa om die Spesiale Ondersoekeenheid te magtig om die Transnet-skandaal ter waarde van 300-miljoen-rand te ondersoek. Die party beweer die uitvoerende hoof van Transnet se Nasionale Hawe-owerheid, Mninawe Pepi Silinga, het die Coega-ontwikkelingskorporasie onreëlmatig aangestel om veiligheidsheinings-opgraderings by groot hawens in te stel, wat die koste van 76-miljoen-rand tot ‘n verbysterende 301-miljoen-rand opgestoot het. Die DA-lid, Mimmy Gondwe, is skepties oor die onpartydigheid van Transnet se interne ondersoek. Sy eis Silinga se skorsing as voorsorgmaatreël hangende ‘n deeglike ondersoek:
# Sokker: Ghana se vroeë vertrek uit die Afrikabeker-toernooi in die Ivoorkus het hoofafrigter, Chris Hughton, sy pos gekos. Die Wes-Afrikaland het derde in Groep B geëindig na ‘n gelykopstryd van 2-elk met Mosambiek. Ghana se beheerliggaam het aangekondig Hughton is onmiddellik van sy pligte onthef terwyl die Black Stars se tegniese span ook ontbind is. Die span se toekomstige koers sal in die komende dae beslis word. Ghana kon slegs vier wedstryde uit 13 wen sedert Hughton in Maart verlede jaar aangestel is.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 40-duisend-200-dollar-49-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-33-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-22-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Wes-Kaapse gevangene, Benn Mathews Christopher, was verlede jaar se gevangene en paroolganger wat die beste presteer het met ses onderskeidings in sy matriekeksamen. Die Departement van Korrektiewe Dienste berig Christopher, van die Brandvlei Korrektiewe Sentrum naby Worcester in die Boland, se gemiddeld was 86,14-persent. Sy onderskeidings sluit in Engels Eerste Bykomende Taal, Wiskundige Geletterdheid, Toerisme en Sakestudies. Hoogpresterende gevangenes van verskeie tronke het trofeë en sertifikate ontvang tydens ‘n geleentheid by die Westville Korrektiewe Sentrum in Durban.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….