Nuus 08:00
BULLETIN 4 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa lewer die geleentheidsrede by die Afreximbank-toetredingseremonie
# Die NVG verwerp Moroadi Cholota se bewerings van marteling
# En ses is dood en drie verdagtes in hegtenis geneem na ‘n skietery in Meyerton
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die hoofrede lewer by die ondertekening van Suid-Afrika se Instrument van Toetrede tot die Afrika-Uitvoer-Invoerbank se Stigtingsooreenkoms in Johannesburg. Afreximbank is ‘n pan-Afrika multilaterale finansiële instelling wat intra- en ekstra-Afrika-handel hanteer, bevorder en uitbrei. Die Presidensie sê Ramaphosa sal Suid-Afrika se visie vir industrialisering, uitvoeronderskeiding, dekarbonisering en digitalisering uiteensit. Dit sê hy sal ook die land se rol in die bevordering van Afrika se ekonomiese integrasie bespreek, in lyn met die bank se strategiese mandaat.
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het bewerings deur die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule se gewese persoonlike assistent, Moroadi Cholota, verwerp. Sy het Dinsdag in die Bloemfonteinse Hooggeregshof gesê sy is geestelik gemartel en basiese menseregte ontsê toe sy van die VSA aan Suid-Afrika uitgelewer is. Die hof het uitspraak tot 18 Februarie voorbehou oor die vraag of Cholota se uitlewering van die VSA in April 2024 wettig was. Mthunzi Mhaga van die NVG sê hulle wil net by die verhoor uitkom:
# Die polisie in Gauteng het drie mense in hegtenis geneem in verband met ‘n skietery wat die lewens van ses mense op die R-59 in Meyerton, suid van Johannesburg, geëis het. Agtien mense is gewond. Al die oorledenes en beseerdes is Lesotho-burgers. Die Gautengse adjunk-polisiekommissaris, Fred Kekana, sê die ses mense, vier vroue en twee mans, is doodgeskiet nadat die minibus waarin hulle gery het, deur ‘n groep verdagtes in ‘n lokval gelei is:
# Die leier van die Britse Konserwatiewe Party, Kemi Badenoch, sê eerste minister Keir Starmer sal moet antwoorde verskaf oor Peter Mandelson, insluitend oor sy aanstelling as ambassadeur in Amerika. Die voormalige minister van Arbeid word beskuldig dat hy mark-sensitiewe staatsinligting aan die Amerikaanse finansier en seksoortreder, Jeffrey Epstein, verskaf het. Die Metropolitaanse Polisie ondersoek Mandelson strafregtelik oor bewerings van wangedrag in ’n openbare amp. Badenoch sê die ondersoek was onvermydelik:
# Gholf: Die Amptelike Wêreld-gholfranglysraad sê slegs die top tien spelers in LIV-gholf se 14 individuele enkelhou-toernooie sal vanjaar punte op die wêreldranglys verdien. Dis die eerste keer sedert die Saoedi-ondersteunde toernooi in 2022 gestig is, dat spelers geleentheid kry om punte op die lys te kry. Die raad sê dit word tot die top tien beperk omdat daar talle areas is waar LIV-gholf nie aan standaarde voldoen nie. Die LIV-seisoen begin vandag in Saoedi-Arabië.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-94-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 21-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-483-dollar. Die prys van goud is vyf-duisend-55-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-58-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….