Nuus 18:00
BULLETIN 3 Februarie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Panyaza Lesufi bepleit beleggings in innoverende boutegnologieë
# Nersa hersien munisipale tariefaansoeke vir drie munisipaliteite
# En, die DA veroordeel die reusesalarisvehogings vir Ekurhuleni departementshoofde
# Die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, vra belegging in vaardighede en hulpbronne om innoverende boutegnologieë te bevorder. Lesufi het tydens die Vernuwende Boutegnologieberaad by Nasrec gesê nuwe idees is die sleutel tot die beëindiging van verouderde praktyke en die verbetering van menslike nedersettings. Hy beklemtoon die behoefte aan veiliger, meer veerkragtige behuising wat teen brande en oorstromings bestand is, en verwelkom diegene wat gereed is om by te dra tot ‘n beter Suid-Afrika:
# Die energiereguleerder, Hersa, het bevestig daar was laat kragtariefaansoeke van die munisipaliteite Ekurhuleni, Madibeng en Msunduzi ná ‘n hofbevel wat onregmatig-goedgekeurde tariewe vir 2024/25 tersyde gestel het. Die reguleerder sê die proses kan lei tot toekomstige aanpassings, met huishoudings wat waarskynlik hoër koste te wagte kan wees terwyl nywerheids-gebruikers krediet kan ontvang. Nersa sal die voorleggings nagaan, openbare kommentaar aanvra en verhore hou voor ‘n finale besluit vir die nuwe boekjaar geneem word.
# Die DA het onthul dat twee departementshoofde in Ekurhuleni, Khemie Beharie en Linda Gxasheka, binne twee maande na aanstelling elk ‘n salarisverhoging van 28-persent ontvang het, wat 585-duisend-286-rand beloop. Veertien maande later het ‘n lewenskosteverhoging van drie-persent hul salarisse op 2,7-miljoen-rand te staan gebring. Die verhogings is deur die uitvoerende burgemeester en burgemeesterskomitee goedgekeur sonder raadsondersoek. Brandon Pretorius van die DA sê albei is deur die Madlanga-kommissie geïmpliseer, en bly op voorsorgskorsing te midde van voortgesette ondersoeke:
# Spanje beplan om toegang tot sosiale media vir minderjariges onder 16 te verbied en platforms sal ouderdomme moet nagaan. Eerste minister Pedro Sanchez het verskeie maatreëls aangekondig om ‘n veilige digitale omgewing te waarborg. Sy linkse koalisieregering het herhaaldelik gekla oor die verspreiding van haatspraak, pornografiese inhoud en waninligting op sosiale media en gesê dit hou negatiewe gevolge vir jongmense in. Sanchez het die Wêreldregeringsberaad in Dubai toegespreek en ander Europese lande versoek om soortgelyke maatreëls te implementeer.
# Rugby: Die Springbok-skrumskakel van die Stormers, Cobus Reinach, het ‘n liesoperasie ondergaan wat hom vir tot ses weke buite aksie sal hou. Die span sê die operasie is beplan nadat hy die besering verlede jaar opgedoen het. Reinach het sy span se eerste drie in Saterdag se Verenigde Rugbykampioenskap-wedstryd teen die Haaie in Durban gedruk, maar het uiteindelik met 36-24 verloor. Reinach, wat Saterdag 36 word, sal nie baie van die Stormers se wedstryde misloop nie want hulle het rus nou vir vier weke voor hul volgende wedstryd.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-85-sent teen die euro en 21-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-61-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-904-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 66-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….