Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons val weg met rugby: Die heersende kampioen, Suid-Afrika, begin sy poging vir ‘n geskiedkundige derde agtereenvolgende Wêreldbeker op 3 Oktober 2027 in Adelaide, Australië, teen Italië. Die Bokke pak Georgië ʼn week later en sewe dae daarna is dit Roemenië se beurt. Die gasheerland pen die toernooi op 1 Oktober in Perth teen die nuweling, Hongkong. Zimbabwe neem die eerste keer sedert 1991 weer deel en hul eerste wedstryd op 2 Oktober in Adelaide is teen Wallis. Die driemalige wenner, Nieu-Seeland, skop hul veldtog op 2 Oktober in Perth af met ʼn kragmeting met Chili.
Intussen sê Springbok-afrigter Rassie Erasmus die aankondiging van die wedstrydprogram laat hulle toe om volstoom voort te gaan met hul beplanning en voorbereiding. Hy sê hulle gaan alles in hulle vermoë doen om seker te maak hulle is so goed as moontlik voorberei vir die toernooi.
# Krieket: Die Proteas hoop om te verbeter op sy vorige vertoning wanneer die T20-Wêreldbekertoernooi hierdie komende naweek in Indië en Sri Lanka begin. Suid-Afrika het twee jaar gelede die eindstryd in Barbados gehaal, maar kon nie daarin slaag om Indië te klop om die beker te beklink nie. Verlede jaar se oorwinning in die Wêreldtoetskampioenskap het die Proteas hoop gegee vir ‘n soortgelyke uitslag in witbalkrieket. Hulle speel hulle groepswedstryde teen Kanada, Afganistan, Nieu-Seeland en die Verenigde Arabiese Emirate, wat Maandag teen Kanada in Ahmedabad, Indië, begin.
# Swem: Verlede jaar se naaswenner, Callan Lötter, is die gunsteling om die vroue-afdeling van hierdie naweek se Midmar-myl in KwaZulu-Natal te wen. Catherine van Rensburg is nie terug om haar titel te verdedig nie, en het besluit om eerder vir die Senior Nasionale Kampioenskap voor te berei met die doel om te kwalifiseer vir vanjaar se Statebondspele in Glasgow, Skotland. Lötter is die nasionale oopwaterkampioen oor die 1,5 kilometer-, die vyf kilometer- en die tien kilometer-afstand. Meer as 12-duisend swemmers sal na verwagting aan vanjaar se byeenkoms deelneem.
# En laastens, Olimpiese Spele: Japan hoop om sy vorige rekord van 18 medaljes te verbeter wanneer die Olimpiese Winterspele vanaf Vrydag in Noord-Italië plaasvind. Japan was vier jaar gelede die top Asiatiese land in Beijing en mik na meer sukses in items soos kunsskaats, sneeuplankry, spoedskaats en ski-spronge. Japan se Olimpiese spanhoof, Hidehito Ito, glo goeie uitslae sal volg as die atlete op hul beste presteer. Japan het 120 deelnemers wat aan die Milaan-Cortina-Spele deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….