Nuus 12:00
BULLETIN 3 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Hof oorweeg Woensdag ‘n borgtogaansoek vir beamptes wat beskuldig word van die moord op ‘n Lugmagsersant
# Tax Justice SA vra Andy Mothibi om op smokkelhandel te fokus
# En rugby: Die Bok-afrigter sê voorbereiding vir 2027 se Wêreldbekertoernooi gaan volstoom voort
# Die Pretoriase Landdroshof gaan môre ‘n formele borgtogaansoek oorweeg van twee BBP-beskermingsbeamptes wat daarvan beskuldig word dat hulle ‘n sersant van die Suid-Afrikaanse Lugmag, Michael Swanton, vermoor het. Thabang Sohole en Michael Makampa het gister in die hof verskyn. Die streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Lumka Mahanjana, sê die beamptes, wat toegewys is aan die burgemeester van die Madibeng-munisipaliteit, Douglas Maimane, staan tereg op aanklagte van moord en regsverydeling:
# Tax Justice SA vra die nuwe Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, om smokkelhandel eerste te stel. Onwettige handel veroorsaak ‘n jaarlikse verlies van meer as 100-miljard rand, terwyl nagemaakte en smokkelware markte oorstroom en wettige maatskappye ondermyn. Die organisasie se leier, Yusuf Abramjee, sê smokkelhandel is ‘n regstreekse bedreiging vir die land se fiskale bestendigheid, ekonomiese sekerheid en die oppergesag van die reg:
# DRDGold het ‘n vyfjaar-loonooreenkoms by sy Ergo-mynboubedrywighede gesluit. Die ooreenkoms, wat deur die mynwerkersvakbond NUM onderteken is, is van toepassing op alle werkers en sluit jaarlikse loonverhogings van tussen ses- en 7,5-persent in, ‘n nuwe prestasiegebaseerde aansporing, verbeterings aan behuisingstoelaes, terugbetaalbaar vanaf Julie verlede jaar, en ‘n eenmalige betaling van vyf-duisend-rand. DRDGold se uitvoerende hoof, Niël Pretorius, sê die ooreenkoms balanseer verbeterde lone met langtermyn-sakevolhoubaarheid.
Nuus uit die buiteland:
# President Donald Trump van Amerika sê die Departement Justisie moet aanbeweeg na ander sake ná die jongste vrystelling van die Jeffrey Epstein-lêers. Die departement het verlede week meer as drie-miljoen bladsye oor die ondersoek na die ontslape seksoortreder vrygestel. Trump was blykbaar jare lank bekend met Epstein, maar sê hy het nie van sy misdade geweet nie. Hy voeg by sy administrasie het beter dinge om te doen:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus sê die aankondiging van die wedstrydprogram vir 2027 se Wêreldbekertoernooi in Australië laat hulle toe om volstoom voort te gaan met hul beplanning en voorbereiding. Suid-Afrika, wat sy derde agtereenvolgende titel jaag, skop sy veldtog op 3 Oktober in Adelaide af teen Italië. Daarna reis hulle na Brisbane en Perth vir hul laaste twee groepwedstryde teen Georgië en Roemenië. Erasmus sê hulle gaan alles in hulle vermoë doen om seker te maak hulle is so goed as moontlik voorberei vir die toernooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-95-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 21-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-698-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-935-dollar-33-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-84-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….