Nuus 08:00
BULLETIN 3 Februarie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ad hoc-komitee gaan skriftelike vrae aan president Ramaphosa voorlê
# Korrektiewe instellings is onder geweldige druk met gevangenegetalle wat 170-duisend oorskry
# En rugby: Suid-Afrika gaan sy Wêreldbeker-veldtog teen Italië in Adelaide afskop
# Die Parlement se ad hoc-komitee gaan geskrewe vrae aan president Cyril Ramaphosa stuur as deel van sy voortgesette ondersoek na bewerings van politieke inmenging en korrupsie in die strafregstelsel. Dit volg op getuienis wat die president by sleutelbesluite betrek wat ondersoek word, insluitend die ontbinding van die taakspan teen politieke moorde. Die voorsitter van die komitee, Soviet Lekganyane, sê voorwaardes sal gestel word vir Ramaphosa se skriftelike voorlegging:
# Kommissaris van die Nasionale Korrektiewe Dienste, Makgothi Thobakgale, sê in 2025 het Suid-Afrika se tronkbevolking 170-duisend-oorskry, wat geweldige druk op gevangenisse landwyd plaas. Thobakgale sê getalle styg weekliks, en baie tronke word bedryf teen meer as 150-persent kapasiteit. Die toename weerspieël doeltreffende wetstoepassing en vervolging, maar die kommissaris waarsku oorbevolking beïnvloed veiligheid en sekuriteit. Hy voeg by daar is geen sentrum wat ‘n opeenhoping van onder 50-persent bestuur nie:
# AfriForum doen ‘n beroep op die nasionale en provinsiale owerhede om die opleiding en keuringsprosesse wat gevolg is om Gauteng se verkeersbewaarders se status na vredesbeamptes te verander, bekend te maak. Meer as nege-duisend bewaarders is Vrydag as vredesbeamptes aangestel. Jacques Broodryk van AfriForum sê dit volg nadat ‘n verslag van die Openbare Beskermer in Oktober verlede jaar bevind het die bewaarders is onwettig:
# Oudpresident Bill Clinton van Amerika en sy vrou en voormalige minister van Buitelandse Sake, Hillary Clinton, het ingestem om voor die Huis se oorsigkomitee te getuig in die ondersoek na die seksoortreder, wyle Jeffrey Epstein. Dit volg dae voor die Huis van Verteenwoordigers blykbaar sou stem om die Clintons van minagting aan te kla omdat hulle nie wettige dagvaardings gehoorsaam nie. Die Justisiedepartement se jongste vrystelling van Epstein-lêers bevat nuwe foto’s van Bill Clinton en Epstein saam, en gereelde kommunikasie van 2001 tot 2004 tussen Epstein se vennoot, Ghislaine Maxwell, en Clinton-personeel.
# Rugby: Die heersende kampioene, Suid-Afrika, begin hul poging vir ‘n geskiedkundige derde agtereenvolgende Wêreldbeker op 3 Oktober 2027 in Adelaide, Australië, teen Italië. Die Bokke takel Georgië ʼn week later en sewe dae daarna is dit Roemenië se beurt. Die gasheerland Australië open die toernooi op 1 Oktober in Perth teen die nuwelinge van Hongkong. Zimbabwe neem die eerste keer sedert 1991 weer deel en hul eerste wedstryd op 2 Oktober in Adelaide is teen Wallis. Die driemalige wenners, Nieu-Seeland, skop hul veldtog op 2 Oktober in Perth af met ʼn kragmeting teen Chili.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-2-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-822-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-762-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-59-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….