Nuus 07:00
BULLETIN 3 Februarie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die speaker van die Nasionale Vergadering weier dagvaardingsversoeke vir Mogotsi en O’Sullivan
# Donald Trump sê die VSA en Indië het ‘n handelsooreenkoms gesluit
# En motorsport: George Russell sê hy is gereed om vir ‘n wêreldkampioenskap te veg
# Die Nasionale Vergadering se speaker, Thoko Didiza, het die parlementêre ad hoc-komitee se versoek dat die sakeman Brown Mogotsi en privaat forensiese ondersoeker Paul O’Sullivan gedagvaar word, geweier. Die komitee wou die twee dwing om fisies te kom getuig. Didiza sê albei individue het kommer oor veiligheid aangevoer en sy waarsku dit kan tot regsprobleme lei indien O’Sullivan se aansoek om virtueel te verskyn, sonder ‘n goeie rede geweier word. Sy sê dagvaardings kan nie net uitgereik word nie, maar moet die spesifieke doelwitte van die ondersoek dien.
Die EFF-leier Julius Malema sê intussen die speaker versuim om die beeld en integriteit van die Parlement te beskerm. Malema sê O’Sullivan en Mogotsi kan nie prima facie bewyse van veiligheidsgevare lewer nie, maar Didiza kom hulle steeds tegemoet:
# Die GOOD-party sê dit is meer as 18 maande sedert die ineenstorting van die George-gebou in Mei 2024, maar daar is steeds geen geregtigheid vir slagoffers en hul families nie. Die party eis duidelikheid oor die ondersoek, insluitend of strafregtelike aanklagte ingestel sal word en wie aanspreeklik is vir regulatoriese mislukkings. Chantelle Kyd van GOOD waarsku voortdurende vertragings kan nalatigheid aanvaarbaar laat lyk, en beklemtoon die publiek is geregtig op antwoorde. Kyd doen ‘n beroep op aanspreeklikheid totdat geregtigheid geskied:
# Die Absa-aankopebestuurdersindeks toon tekens van herstel aan die begin van 2026, na ‘n swak einde verlede jaar. Die indeks het verlede maand met 8,2 punte tot 48,2 punte gestyg, steeds onder die neutrale 50-drumpel maar dit is wel ‘n noemenswaardige verbetering. Sake-aktiwiteit het teruggekeer na positiewe groei, wat daarop dui dat vervaardigingsproduksie in die eerste kwartaal kan verbeter. Nuwe bestellings het ook toegeneem, gedryf deur sterker plaaslike vraag, maar uitvoere het swak gebly. Sakevertroue het relatief hoog gebly, hoewel maatskappye versigtige handelstoestande rapporteer.
# President Donald Trump van Amerika sê hy en Indië se eerste minister, Narendra Modi, het na ʼn gesprek ooreengekom om tariewe tussen hul lande te verlaag. Trump sê in ʼn inskrywing op sy Truth Social-platform dat Modi as deel van die ooreenkoms ingestem het om die aankoop van Russiese olie te staak, tariewe op Amerikaanse goedere op te hef, en baie meer Amerikaanse produkte te koop. In ruil daarvoor sal Trump wederkerige tariewe op Indiese goedere met onmiddellike ingang van 25-persent tot 18-persent verlaag.
# Motorsport: George Russell glo Mercedes het hom hierdie seisoen ʼn motor gegee wat in staat is om F1-wêreldkampioenskap te wen. Die 27-jarige Brit is gereed vir sy agste Formule Een-seisoen en het vyf Grand Prix-seges op sy kerfstok sedert hy in 2022 by die Silver Arrows aangesluit het. Russell sê hy hoop om die viermalige wêreldkampioen, Max Verstappen van Red Bull, in die titelstryd te takel. Verstappen moes die vorige seisoen teen Lando Norris van McLaren die knie buig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-1-sent teen die dollar, 18-rand-89-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-802-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-851-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-24-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….