Nuus 17:00
BULLETIN 2 Februarie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Ballistiese kenner betwis Getuie B se getuienis voor die Madlanga-kommissie
# ‘n Ooreenkoms tussen Sanlam Beleggings en Ninety One tree in werking
# En, Israel open die Rafah-grenspos na Egipte, met streng beperkings
# ‘n Senior ballistiese kenner in die SAPD, Laurance Makgotloe, het dele van Getuie B se getuienis voor die Madlanga-kommissie in Oktober betwis. Getuie B het die voormalige offisier Michael Pule Tau en die vermeende dwelmhoof, Katiso ”KT” Molefe, met verskeie sluipmoorde verbind. Makgotloe het verduidelik vuurwapenbewyse wat hoëprofielmoorde verbind, insluitend die van Armand Swart, DJ Somebody, DJ Vintos en Don Tindleni, toon teenstrydighede. Hy is bekommerd of dit werklike foute of doelbewuste weglatings was:
# Sanlam Beleggings werk nou amptelik saam met die globale batebestuurder, Ninety One, om sy beleggingsdienste te versterk. Die ooreenkoms sluit die oordrag in van byna 400-miljard-rand in bates en versterk Sanlam se vermoë om multibestuur-, privaat welvaart- en alternatiewe beleggingsoplossings plaaslik en in die buiteland aan te bied. Die uitvoerende hoof van Sanlam, Carl Roothman, sê die vennootskap stel die maatskappy in staat om op sy sleutelbedrywighede te fokus terwyl hy op Ninety One se globale kundigheid staatmaak. Die uitvoerende hoof van Ninety One, Hendrik du Toit, sê die samewerking dui ‘n toekomsgerigte belegging in Suid-Afrika se spaar- en beleggingslandskap aan.
# Israel het die Rafah-grens tussen Gaza en Egipte heropen vir ‘n beperkte aantal voetgangers. Dis die enigste roete in en uit die gebied vir byna al Gaza se meer as twee-miljoen inwoners. Dit was die grootste deel van die oorlog gesluit, en die heropening is een van die laaste groot stappe onder die aanvanklike fase van ‘n wapenstilstand wat in Oktober deur Amerikaanse bemiddelling bereik is. ‘n Palestynse bron sê 50 Palestyne sou Gaza vandag binnegaan en ‘n soortgelyke aantal sou toegelaat word om te vertrek.
# Tennis: Die 38-jarige Novak Djokovic van Serwië het die Duitser Alexander Zverev vervang in derde plek op die wêreldranglys nadat hy die eindstryd van die Australiese Ope gehaal het. Die Spanjaard Carlos Alcaraz bly eerste na hy die tienmalige kampioen verslaan het. Die Italianer Jannik Sinner, wat in die halfeindronde teen Djokovic verloor het, is steeds tweede en sy landgenoot Lorenzo Musetti vierde. Hulle word gevolg deur die Australiër Alex de Minaur, die Amerikaner Taylor Fritz, die Kanadees Felix Auger-Aliassime, die Amerikaner Ben Shelton en Alexander Bublik van Kazakstan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-99-sent teen die euro en 21-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-788-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-741-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 65-dollar-83-sent per vat.
# En laastens, president Cyril Ramaphosa betreur die dood van die 96-jarige Leon Levy – die laaste oorlewende ondertekenaar van die Vryheidsmanifes en beskuldigde nommer-vier in die verraadverhoor van 1956. Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê die vakbondlid en teen-apartheidsaktivis en sy tweelingbroer, Norman, was saam in aanhouding en ballingskap. Hy sê die president het hulde gebring aan die rol wat Levy in Suid-Afrika se bevryding gespeel het en sy blywende nalatenskap:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….