Nuus 16:00
BULLETIN 2 Februarie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gebou in Doornfontein stort ineen ná ‘n ontploffing
# Tennis: Rybakina skuif op na derde plek op die wêreldranglys ná haar sege in die Australiese Ope
# En ‘n doktorale studie belig ‘n voedselvermorsingskrisis in Suid-Afrika
# Dele van ‘n woongebou tussen Lower Ross-straat en Beaconstraat in Doornfontein, Johannesburg, het ingetuimel ná ‘n vermeende ontploffing. Ooggetuies sê dis onduidelik of dit ‘n gas- of transformator-ontploffing was. Vroeë berigte dui aan drie mense het derdegraadse brandwonde opgedoen en is na die hospitaal gehaas, terwyl noodspanne inwoners gehelp het om veilig te ontruim. Die toneel word tans deursoek om die oorsaak te bepaal. Noodmediese Dienste moet nog die volle omvang van die beserings en skade bevestig.
# Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Bevordering, Inyathelo, het beduidende onopsetlike gevolge van wêreldwye finansiële regulasies vir Suid-Afrika se nie-regeringsorganisasies onthul. Feryal Domingo van Inyathelo sê maatreëls wat ontwerp is om geldwassery en terreurbefondsing te bekamp, onderdruk onopsetlik wettige werk deur verhoogde administratiewe laste en finansiële uitsluiting. Sy sê 62-persent van organisasies in die land se rekenings was al gesluit of bevries:
# AfriForum eis antwoorde van Noordwes se regering en die provinsie se Parke- en Toerismeraad oor reuse-toegangsgeld-verhogings by die Pilanesberg Nasionale Park. Woordvoerder Lambert de Klerk vra deursigtigheid oor hoe fondse toegeken, bestee en herbelê word, en wys daarop dat infrastruktuur agteruitgegaan het weens swak onderhoud. Hy voeg by dat hulle vrywillige openbaarmaking van geskiedkundige begrotings, fooie en toegewings wil hê, en verdere stappe kan doen indien dit geïgnoreer word:
# Tennis: Elena Rybakina van Kazakstan het van vyfde na derde plek op die wêreldranglys opgeskuif nadat sy Saterdag die Australiese Ope gewen het. Die Amerikaner Coco Gauff het na vyfde plek teruggesak nadat sy in die kwarteindronde uitgeskakel is. Die naaswenner, Aryna Sabalenka van Belarus, is steeds eerste en die Pool Iga Swiatek tweede. Die Amerikaner Amanda Anisimova is steeds vierde en haar landgenoot Jessica Pegula sesde, gevolg deur die Rus Mirra Andreeva, die Italianer Jasmine Paolini en die Switser Belinda Bencic. Elina Svitolina van Oekraïne voltooi die top-tien.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-98-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 21-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 78-duisend-107-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-775-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Doktorale studie deur Ikechukwu Opara aan die Universiteit Stellenbosch toon dat tussen nege- en 17-duisend ton vrugte en groente jaarliks in Suid-Afrika se grootste groothandelmarkte vermors word. Die vermorsing is die gevolg van koueketting-probleme, swak vervoer en onvoldoende berging. Opara sê verbeterde infrastruktuur en masjienleerinstrumente kan temperatuur en vogtigheid monitor, voorraad optimaliseer en na-oesverliese verminder. Hy voeg by die maatreëls kan voedselpryse verlaag, voedselsekerheid verbeter en huishoudings help om toegang tot bekostigbare vars produkte te verkry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….