Nuus 15:00
BULLETIN 2 Februarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DJ Warras-moordsaak is uitgestel sodat beskuldigde twee se besonderhede nagegaan kan word
# Trump wil Trevor Noah dagvaar oor sy opmerkings oor hom en Epstein by die Emmys
# En tennis: Djokovic glo steeds hy kan ’n 25ste Grand Slam-titel opraap
# Die Johannesburgse Landdroshof het die saak teen die tweede beskuldigde in die moord op Warrick ”DJ Warras” Stock tot volgende Maandag uitgestel sodat die staat sy adres en immigrasiestatus kan nagaan. Die beweerde skieter, die 25-jarige Mosambiekse burger Armindo Joaquim Pacula, is in die Marathon-informele nedersetting in Primrose aan die Gautengse Oos-rand in hegtenis geneem. Hy staan tereg op aanklagte van moord en oortreding van die Immigrasiewet. Die sluipmoord op Stock was na bewering sowat 25-duisend-rand werd, waarvan die skieter sewe-duisend-rand ontvang het.
# Die Organisasie teen Belastingmisbruik vertrou die Nasionale Vervolgingsgesag sal sterk leierskap ervaar tydens Andy Mothibi se ampstermyn as Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging. Stephanie Fick van OUTA het aan Newzroom Afrika gesê dit gaan vir Mothibi ‘n reusetaak wees om openbare vertroue te herstel. Kommer bestaan steeds oor vervolgings wat verbind word aan staatskaping, maar Fick glo Mothibi se rekord bied hoop vir hernuwing in die NVG:
# Sewe-en-sewentig-persent van Suid-Afrikaanse hoteleienaars sukkel om personeel te werf en te behou, met 58-persent wat geen of dalende winste aanteken. Dit is volgens ‘n verslag van die Gasvryheids-batebestuursmaatskappy van Suid-Afrikaanse Hoteleienaars. Stygende arbeids- en elektrisiteitskoste, regulatoriese rompslomp en befondsingsbeperkings beperk groei. Die organisasie se uitvoerende hoof, Anton Gillis, vra dringende gesamentlike optrede van regerings- en bedryfsinstellings. Hy sê as infrastruktuur-uitdagings opgelos word, sal amper die helfte van die hoteleienaars voorrang gee aan beleggings in die arbeidsmag.
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, het met regstappe gedreig teen Trevor Noah na die komediant se kommentaar tydens die 68ste Grammy-toekennings. Trump beweer die Suid-Afrikaner se opmerkings oor hom en die veroordeelde seksoortreder, Jeffrey Epstein, was vals en lasterlik. Trump het Noah in ‘n plasing op Truth Social as ‘n talentlose verloorder bestempel en sê sy prokureurs gaan regstappe doen. Noah het geskerts oor Trump se belangstelling in Groenland en in Epstein. Trump het alle bewerings ontken en beloof om te reageer.
# Tennis: Die 38-jarige Novak Djokovic sê hy glo steeds hy kan ‘n rekord 25ste Grand Slam-titel wen. Die Serwiër het in die Australiese Ope se eindstryd teen die Spanjaard Carlos Alcaraz verloor waar laasgenoemde sy loopbaan-Grand Slam voltooi het. Djokovic, wat in 2023 se Amerikaanse Ope laas ‘n Grand Slam-toernooi kon wen, sê dis wonderlik dat hy die Italianer Jannik Sinner in die halfeindronde geklop het en Alcaraz in die eindwedstryd kon pak:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 15-rand-99-sent teen die dollar, 18-rand-98-sent teen die euro en 21-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 77-duisend-624-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-746-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….