Nuus 13:00
BULLETIN 2 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aktiviste betoog teen Israelse skenkings in die Oos-Kaap
# Business Leadership SA vra die regering om sy nuwe energievoertuigbeleid te finaliseer
# En sokker: Minister McKenzie sê daar is geen formele bevestiging dat Suid-Africa die gasvrou van Wafcon sal wees nie
# Verskeie maatskaplike aktiviste-groepe, insluitend die Independent Komani Residents Association en die Unemployed People’s Movement, betoog vandag in die Oos-Kaap teen skenkings van Israel om swak dienslewering in plaaslike gemeenskappe te verbeter. Thulani Bukani van die vereniging sê die skenkings is polities-gemotiveerd. Hy veroordeel Israel se optrede in Palestina en beskryf dit as volksmoord. Bukani eis dat hulp ommiddellik verwyder word en die staking van wat hy Israelse apartheid noem:
# Business Leadership South Africa sê die balansering van China as ‘n kritieke handelsvennoot met die beskerming van binnelandse werksgeleenthede, vereis gesofistikeerde beleid. Die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie van Suid-Afrika oorweeg ‘n heffing van invoertariewe van 50-persent op passasiersvoertuie en 30-persent op onderdele. Chinese invoere het in 2024 altesaam 22-persent van alle voertuiginvoere na die land uitgemaak. BLSA se uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, sê die regering moet dringend die beleid oor nuwe energievoertuie finaliseer, tariewe verfyn en teenstortings-maatreëls instel om voertuigvervaardigers te beskerm.
# Die Stad Tshwane sê Rand Water se Palmiet-stelsel ervaar weer lae tot uitgeputte reservoirvlakke as gevolg van die onlangse kragonderbreking. Dit het daartoe gelei dat inwoners lae waterdruk en gereelde onderbrekings ondervind. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê verskeie reservoirs toon drastiese dalings, insluitend Laudium, die Atteridgeville hoëvlak-reservoir, Lotus Gardens en Soshanguve, gedeeltes L en DD. Mashigo sê water word nou weer by die Palmiet-stelsel gepomp:
# Kaapstad se geleentheids-program vir 2025 toon goeie bywoning, groot ekonomiese uitwerking en bydrae tot werkskepping, terwyl sy status as Afrika se grootse geleentheids-bestemming bevestig is. Die permitkantoor het tussen 1 Januarie en 31 Desember een-duisend-en-64 geleenthede goedgekeur. Dit wissel van groot internasionale sportwedstryde en grootskaalse feeste tot gemeenskaps- en kultuurvergaderings. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê hierdie geleenthede het meer as 3,4-miljoen toeskouers en deelnemers gelok.
# Sokker: Die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, sê daar is geen formele besluit geneem dat Suid-Afrika sal oorneem as gasvrou van die Afrikabekertoernooi vir vroue nie. Dit volg nadat adjunkminister Peace Mabe verklaar het dat Suid-Afrika ingestem het om by Marokko oor te neem. Daar is gerugte dat die Noord-Afrikaland kan onttrek as gasvrou. McKenzie sê enige moontlike aanbieding van die toernooi sal onderhewig wees aan gevestigde regerings- en sokkerbestuursprosesse.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-12-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-8-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-937-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-671-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….