Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 2 Februarie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met tennis: Die wêreld-nommer-een, Carlos Alcaraz, het die jongste man geword om ‘n loopbaan-Grand Slam te voltooi deur sy eerste Australiese Ope-titel te verower. Die 22-jarige Spanjaard het die tienmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwië, in vier stelle verslaan vir sy sewende Grand Slam-titel. Die 38-jarige Djokovic hoop steeds op sy 25ste Grand Slam-kroon. Alcaraz is opgewonde vir sy volgende uitdaging – ‘n kalender-Grand Slam:
# Rugby: Die afrigter van die Sewes-Springbokke, Philip Snyman, sê die gebrek aan besluitneming en kliniese afronding was die grootste teleurstellings vir hulle in die naweek se wêreldreekstoernooi in Singapoer. Die Blitsbokke het in die halfeindronde teen Frankryk vasgeval en toe vierde geëindig toe hulle teen Nieu-Seeland verloor het in die uitspeelstryd om derde plek. Snyman sê hulle gaan probeer om foute reg te stel in Perth, Australië:
# Netbal: Suid-Afrika het Engeland 65-50 verslaan in die derde en laaste toets in Johannesburg vir ‘n swaarverdiende reeksoorwinning van 2–1. Die Rose het die eerste toets verloor, maar sake Saterdag gelykop gemaak met ‘n sege van 61-49. Engeland en Suid-Afrika is in dieselfde groep van ses spanne vir die Statebondspele in Glasgow. Die Proteas se afrigter, Jenny van Dyk, sê haar spelers se kliniese spel het die reeks beklink:
# Gholf: Die Suid-Afrikaner MJ Viljoen het ʼn uitspeel-oorwinning behaal in die SDC Ope op die Zebula-gholflandgoed in Limpopo. Hy het ʼn voëltjie op die 72ste putjie behaal om ‘n uitspeelstryd teen sy landgenoot Deon Germishuys af te dwing. Nog ‘n voëltjie op die eerste bykomende putjie het Viljoen sy vierde Sonskyntoer-titel besorg. Die Suid-Afrikaner Jean Hugo en Maxence Giboudot van Frankryk was saam derde. Viljoen is opgewonde oor sy prestasie:
# En krieket: Pakistan gaan aan die T20-Wêreldbekertoernooi deelneem nadat hy voorheen gedreig het om dit te boikot. Hy sal egter nie volgende Sondag in Colombo teen die medegasheer, Indië, speel nie. Pakistan en Indië het mekaar weens politieke spanning sedert 2013 nog nie buite die groot toernooie gepak nie. Bangladesj het reeds onttrek uit vrees vir sy spelers se veiligheid indien hulle na Indië sou reis. Die Internasionale Krieketraad sê Pakistan se posisie van selektiewe deelname is moeilik om te versoen met die basiese vertrekpunt van ʼn internasionale sportgeleentheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….